Hervormde Kerk reageer op ammunisie in kerk

Argieffoto

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het in sy jongste nuusbrief reageer op die ammunisie wat onder ‘n valdeur agter die preekstoel van die Hervormde Kerk in Schweizer-Reneke, Noordwes, gevind is.

Maroela Media het verlede Vrydag berig die polisie het drie kratte met sowat 5 000 rondtes ammunisie na ‘n wenk in die kerkgebou gevind.

Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (AKV) stel sy standpunt so in die e-Hervormer: “Die Kommissie van die AKV het met hartseer en teleurstelling kennis geneem van die ontdekking van ammunisie onder die preekstoel van Gemeente Schweizer-Reneke. Die polisie se ondersoek gaan voort, en die Kommissie wag die uitslag daarvan af. Die Ringskommissie van Maquassi en die Kommissie van die AKV hanteer die saak op kerklike wyse. Die Hervormde Kerk distansieer hom van enige onwettige optrede of enige subversiewe optrede wat die grondwetlike orde in Suid-Afrika bedreig. Ons verkondig die evangelie van Jesus Christus, die hoop vir die wêreld.”

Die Kerkraad van Schweizer-Reneke het hom in Maart vanjaar eenparig in ‘n brief by die geledere van ontevrede lidmate, bekend as die steedsHervormers, geskaar. Die steedsHervormers het tot stand gekom na die NHK hom tydens ‘n sinode (bekend as Algemene Kerkvergadering) van apartheid gedistansieer het. Ofskoon die steedsHervormers nou op teologiese kwessies fokus, kon ‘n spesiale AKV waar die oorspronklike besluit herformuleer is, nie die lug suiwer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.