Heyns-moord: Saak uitgestel

Prof. Louis Heyns

Prof. Louis Heyns

ʼn Derde voorverhoorkonferensie vir drie mans wat van die moord op prof. Louis Heyns, voormalige dosent aan die Universiteit van Stellenbosch beskuldig word, is in die Wes-Kaapse hooggeregshof geskeduleer.

Die broers Marthinus (33) en Sarel van der Walt (42), en sakeman Juan Liedeman van Malmesbury, het Vrydag tydens hul tweede voorverhoorkonferensie voor regter John Hlophe in die hof verskyn. Die derde voorverhoorkonferensie is vir 7 Maart geskeduleer.

Staatsaanklaer Samantha Raphels het aan die hof gesê sy is in samesprekings met die verdedigingspan. Sy het nie aangedui of die samesprekings oor ʼn pleitooreenkoms handel nie.

William Booth, vir Liedeman, het aan die hof gesê hy is nie tevrede daarmee dat sy kliënt as die derde beskuldigde in die saak aangewys is nie. Hy hoop glo om ʼn ooreenkoms met die staat te bereik. Indien sy aansoek, dat Liedeman verkeerdelik by die saak betrek is, suksesvol is, sal alle aanklagte teen Liedeman teruggetrek word.

Heyns, ʼn professor in die pediatrie, het op 22 Mei 2013 verdwyn nadat hy by die Tygerberg-hospitaal in Bellville weg is. Sy liggaam is op 30 Mei in ʼn vlak graf naby Gordonsbaai in Strand opgespoor.

Die broers het Heyns glo gekaap toe hy by die hospitaal weg is. Hulle het hom glo beroof en vermoor en sy liggaam in die vlak graf begrawe. Die gekaapte voertuig is toe by Liedeman se perseel in Malmesbury afgelaai.

Die motor is glo in Liedeman se besit opgespoor en hy staar aanklagte van gesteelde eiendom, betrokkenheid by die misdaad nadat dit plaasgevind het en dwarsboming van die gereg in die gesig. Die staat voer aan hy het die motor van die broers ontvang, wetend dat die eienaar vermoor is, en dat hy die motor op sy perseel gehou het sonder om die polisie in kennis te stel. Hy is op borgtog van R20 000 vrygelaat. Tydens sy aansoek om borgtog het hy gesê Sarel het eers vir hom gewerk, maar is afgedank nadat hy van diefstal beskuldig is. Sedert Sarel se afdanking het hy glo dreigemente van altwee broers ontvang.

Die broers word van moord en diefstal aangekla. -SAPA

Lees ook:
Heyns-moord: Drie weer in hof
Heyns-moordsaak: Verdagte kry borg
Heyns-moordsaak: Twee trek borgaansoek terug, een veg voort
Heyns-moord: Drie weer in hof
Nog drie vas vir moord op Kaapse pediater
Drie in hof vir moord op Kaapse pediater
Vermiste pediater dood gevind
Polisie soek steeds na vermiste pediater
Kaapse pediater steeds vermis
Kaapse pediater vermis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.