Hier is die goedkoopste en duurste banke

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se jaarlikse Bankkosteverslag wat hierdie kwartaal bekend gemaak is, het goeie nuus vir verbruikers gebring: Die bankkoste van die meeste Suid-Afrikaanse banke wat in dié verslag bestudeer word, het die afgelope jaar gedaal.

Capitec is vir die derde agtereenvolgende jaar die bank met die laagste bankkoste in die Bankkosteverslag. Soos voorheen is FNB weer in die tweede plek, maar waar Nedbank voorheen die derde plek ingeneem het, is dié bank nou bo-aan die lys met die hoogste bankkoste.

Absa en Standard Bank, wat in 2010 en 2011 veel hoër bankkoste gehad het as die ander drie banke in die vergelyking, het hulle in 2012 ingrypende veranderinge aan hul rekeninge en bankkoste gemaak. Dit het veroorsaak dat dié twee banke nou onderskeidelik in die derde en vierde plek uit die vyf banke in die vergelyking val.

In vanjaar se verslag blyk dit dat die maandelikse koste van ʼn middelvlak-tjekrekening by die groot banke nou so ongeveer R80 tot R120 per maand beloop, met FNB aan die laer kant van hierdie nou spektrum. Een van FNB se “vlagskip”-produkte, die “Gold Cheque Unlimited”-rekening, se totale maandelikse koste beloop ongeveer R100 per maand. Waar Absa in 2010 en 2011 geen rekening gehad het wat werklik hiermee meegeding het nie, het dié bank nou die “Gold Value Bundle”-rekening wat teen ʼn koste van sowat R110 per maand sterk met FNB meeding. Dieselfde geld ook vir die FNB “Smart Cheque Unlimited”-rekening en Absa se “Silver Value Bundle”, wat beide bankkoste van sowat R80 tot R85 per maand het. Selfs Standard Bank, wat in vorige jare buitensporige hoë bankkoste gehad het, se nuwe “Achiever Electronic”- en “Elite Fixed Fee”-rekeninge het nou opsies geword wat gerus deur bankkliënte oorweeg kan word.

Capitec skop egter steeds stof in sy mededingers se oë, met bankkoste van sowat R30 tot R70. Indien daar in ag geneem word dat Capitec 4,25% tot 5% rente betaal op saldo’s wat in sy lopende rekening gehou word, verlaag dit die effektiewe bankkoste nog verder.

Indien slegs die rekeninge by die onderskeie banke wat gedurende 2011 en 2012 die goedkoopste was, se koste vergelyk word, het al die banke behalwe Nedbank se koste gedaal tussen die twee jare – Absa se koste met byna 40%.

Nedbank is vanjaar uit pas met die algemene tendens van dalende kostes. Elke rekening van Nedbank wat vergelyk is, het op elke transaksieprofiel met gemiddeld 4,7%  duurder geword sedert 2011.

Die volledige Bankkosteverslag vir 2012 is op www.navorsing.co.za beskikbaar. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.