Híér is dit die onveiligste op plase

3 300 pare skoene simboliseer omvang van plaasaanvalle. Foto: Steve Hofmeyr / Twitter

Om op ʼn plaas of plot in Gauteng te woon en boonop ouer as 60 jaar te wees, plaas mense in die kategorie van die kwesbaarste teikens vir plaasaanvalle in Suid-Afrika. Volgens navorsing wat gedoen is oor aanvalle wat in Kraal Uitgewers se nuutste boek, Treurgrond: Die realiteit van plaasaanvalle, 1990–2012, opgeteken is, is Gauteng die gevaarlikste provinsie vir plaas- en plotbewoners. Meer as 19,8% van die 3 319 plaasaanvalle wat vir die 23 jaar tussen 1990 en 2012 opgeteken is, het in Gauteng plaasgevind. Die ander drie noordelike provinsies – Mpumalanga, Noordwes en Limpopo – is onderskeidelik die tweede, derde en vierde gevaarlikste provinsies, met 15,3% van die aanvalle wat in Mpumalanga, 15,2% wat in Noordwes en 12,7% wat in Limpopo aangeteken is.

Die Vrystaat (11,8%), KwaZulu-Natal (11,5%), die Oos-Kaap (7%) en die Wes-Kaap (4,7%) beklee die vyfde tot agtste posisies. Die Noord-Kaap is stewig in die posisie van ‘veiligste provinsie’, met sowat 1,6% van die aanvalle wat in hierdie provinsie aangeteken is. (Dié syfers is gebaseer op die aantal aanvalle wat per provinsie in Treurgrond aangeteken is en staan nie in verhouding met die aantal inwoners of aantal plase en plotte in die provinsies nie.)

Dié en ander skoksyfers is Donderdag by die bekendstelling van Treurgrond by die Willem Prinsloo Landboumuseum, oos van Pretoria, onthul. By die bekendstelling is 3 319 pare skoene uitgestal wat die aantal plaasaanvalle wat in die boek aangeteken is, simboliseer. Die aantal moordslagoffers is ook aangedui met ʼn rooi strikkie op 1 610 pare skoene. Treurgrond beskryf die aanvalle op minstens 5 818 direkte slagoffers van plaasaanvalle van 1990 tot 2012.

Verdere navorsing toon dat ʼn gemiddeld van drie aanvallers per plaasaanval betrokke is en in sekere aanvalle is daar soveel as 10 aanvallers wat op inwoners toesak. Dit is duidelik dat aanvallers verkies om in groepe toe te slaan. Sowat 86% van aanvalle word deur groepe van twee of meer aanvallers gepleeg.

Daarby toon navorsing dat ouer mense baie meer kwesbaar is vir plaasaanvalle as mense in hul 20’s tot 40’s. Luidens die beskikbare inligting in Treurgrond is 42,6% van slagoffers 61 jaar en ouer. Slagoffers wat 51 jaar en ouer is, maak altesaam 62,7% van alle slagoffers uit. Daarbenewens is 6,1% van die slagoffers wie se ouderdomme in Treurgrond aangeteken is 15 jaar of jonger.

Treurgrond is die eerste keer in 2011 uitgegee en het hoofsaaklik bestaan uit data wat reeds vir jare deur TLU SA ingesamel is. Verdere navorsing is gedoen en meer as 700 bykomende plaasaanvalle is in die nuwe uitgawe ingesluit. Die boek is saamgestel deur dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, genl.maj. Chris van Zyl van TLU SA en Ilze Nieuwoudt van Kraal Uitgewers.

Die boek is by Kraal Uitgewers beskikbaar. SMS “Treur” na 34388 om ʼn bestelling te plaas. Treurgrond kos R350 (R40-posgeld uitgesluit). Vir meer inligting besoek www.kraaluitgewers.co.za of skakel 012 644 4329.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.