Hier kom “Finding Dory”

Nemo en Dory in “Finding Nemo”

Ná jarelange bespiegeling of ‘n opvolg op die Oscar-wenner animasierolprent Finding Nemogemaak gaan word, het Disney-Pixar Dinsdag aangekondig dat dit in 2015 vrygestel gaan word.

Finding Dory” sal op die vergeetagtige en geselserige blou doktervis (Acanthuridae) fokus wie se stem deur die komediant Ellen DeGeneres vertolk word, berig SowetanLIVE. “Ek is opgewonde dat dit uiteindelik gebeur,” het DeGeneres op haar geselsprogram, Ellen, gesê. “Ek het die draaiboek gelees en dit is fantasties, dis skreeusnaaks, dis warm, dis alles wat jy gehoop het dit gaan wees.”

Andrew Stanton, wat in 2003 saam met Lee Unkrich mede-regisseur was van die rolprent Finding Nemo, sê die rolprent sal hoofsaaklik daaroor handel om Dory weer met haar “geliefdes” te herenig. “Daar is geen Dory sonder Ellen nie,” het Stanton gesê. “Sy het fliekgangers se harte wêreldwyd verower.” Karakters soos Nemo, sy pa Marlin en die Tank Gang verskyn ook in die rolprent. “Die storie speel ongeveer ‘n jaar ná Nemo met sy gesin herenig is, af.”

Die rolprent sal na verwagting op 25 November 2015 vrygestel word.

Finding Nemo het wêreldwyd sowat $922 miljoen verdien. Die rolprent het ‘n Oscar vir beste animasierolprent in 2004 gewen en is vir drie ander Oscars genomineer.

Disney-Pixar is ‘n filiaal van Walt Disney Co.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.