Hiér word jou belastinggeld vermors

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het vandag tydens die bekendstelling van sy Leefbaarheidsmonitor vir Gauteng die provinsie se swakste en beste munisipaliteite aangewys.

Die munisipaliteite van Merafong City, Westonaria en Randfontein, almal deel van die Wes-Randse Distriksmunisipaliteit, het die swakste leefbaarheidstellings ontvang. Die monitor vorm deel van Solidariteit se belastingveldtog wat vroeër vanjaar van stapel gestuur is. Die vakbond speel veral deur navorsing ʼn waghondrol om die besteding van die werkers se belastinggeld te monitor.

Eugene Brink, senior navorser aan die SNI, sê die doel van die monitor is om die leefbaarheid van die provinsie op munisipale vlak te meet. Leefbaarheid word aan die hand van ʼn stel sleutelaanwysers, met subaanwysers wat daaronder ressorteer, ontleed. “Westonaria en Merafong City het albei 5 uit 10 gekry terwyl Randfontein 5,5 uit 10 vir leefbaarheid gekry het. Al die munisipaliteite val onder die Wes-Randse Distriksmunisipaliteit. Volgens die 2011 QOL-indeks is ontevredenheidsvlakke in Westonaria en Merafong van die hoogste in Gauteng met inwoners wat onder meer ontevrede is met watervoorsiening, sanitasie, vullisverwydering, paaie en die koste van dienste en fakturering. In Westonaria is daar talle vakante poste waaronder dié van hoof finansiële bestuurder asook ʼn senior superintendent vir wetstoepassing en veiligheid. Randfontein het die afgelope finansiële jaar waterverliese van R1,7 miljoen gely weens diefstal, foutiewe meters en lekkasies. Daarbenewens het dit ook kragverspreidingsverliese van R21 miljoen gely weens onwettige verbindings en foutiewe meters.”

Brink sê Mogale City (Krugersdorp), ook deel van die Wes-Randse Distriksmunisipaliteit, het op sy beurt 7 uit 10 gekry. “Verskeie onlangse onreëlmatighede het binne die munisipaliteit voorgekom waaronder die sluiting van ʼn kontrak met ʼn twyfelagtige maatskappy vir die installering van watermeters. Twee van die drie metropolitaanse munisipaliteite, naamlik Johannesburg en Tshwane, het ook 7 uit 10 gekry, terwyl Ekurhuleni met 6,5 uit 10 tevrede moes wees. Johannesburg het in die ouditeur-generaal se jongste ouditverslag ʼn gekwalifiseerde oudit ontvang, veral weens sy chaotiese rekeningstelsel. Dié metro is egter die leier wanneer dit kom by watervoorsiening en -gehalte. In ʼn mediaberig vroeër vanjaar het die graderingsagentskap Ratings Africa aangedui dat Tshwane die swakste vaar van al die metrorade ten opsigte van finansiële stabiliteit. Tshwane blyk egter vordering te gemaak het met die voorsiening van laekostebehuising. Die spesiale ondersoekeenheid se ondersoek na ongerymdhede by Ekurhuleni het onder meer opspraakwekkende onthullings oor munisipale amptenare se vervalste matrieksertifikate, vervalste kwitansies, spookwerknemers en werknemers se misdaadrekords opgelewer.”

Die Lesedi Munisipaliteit, wat deel uitmaak van die Sedibeng Distriksmunisipaliteit, was die enigste ander munisipaliteit wat 7 uit 10 gekry het. Sedibeng se twee ander munisipaliteite, naamlik Midvaal en Emfuleni, het albei 6 uit 10 gekry.

* Die Leefbaarheidsmonitor is ʼn nuttige, kompakte gids oor leefbaarheid in Suid-Afrikaanse munisipaliteite en metropolitaanse gebiede. Die Leefbaarheidsmonitor is gegrond op beskikbare inligting en is derhalwe nie allesomvattend nie; dit is ʼn momentopname en nie ʼn analise oor tyd nie. Soos wat verdere inligting beskikbaar word of in die toekoms ingesluit kan word, sal die leefbaarheidstellings vir munisipaliteite en metropolitaanse gebiede uiteraard aangepas en met vorige jare vergelyk kan word.

Klik hier om die Leefbaarheidsmonitor af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.