Highlanders te goed vir Sharks

Brad Thorn. Foto: foxsports.com.au

Die Highlanders se veteraan-kaptein, Brad Thorn, kon kwalik vir ‘n beter beloning vir sy 100ste Super-wedstryd gevra het as ‘n 25-22 oorwinning oor die magtige Sharks in Dunedin.

Met hierdie sege het die tuisspan slegs hul eerste oorwinning in 2013 se Super15 geproe en mens kry die indruk dat hulle eintlik al veel beter moes gevaar het. Hul verdediging was rotsvas teen onverbiddelike aanslae deur die besoekers en daar skort absoluut niks met hul aanvalsangel nie.

Die Sharks het werklik nou hul rûe teen die muur in die kompetisie. Desondanks dat beide spanne drie drieë gedruk het, het swak besluitneming en ‘n gebrek aan geduld die Durbaniete gekos.

Die tuisspan se All Black-losskakel, Colin Slade, het egter self twee belangrike strafskoppe verbrou toe hy albei in die regop paal vasgeskop het.

Die Highlanders se binnesenter, Shaun Treeby, het binne die eerste paar minute sy span se rekening geopen toe die Bok-vleuel JP Pietersen met ‘n geelkaart koelkas toe is.

Meyer Bosman het ná ‘n behendige stukkie spel en aangee deur Frans Steyn langs die pale gaan druk en Lambie het die twee punte bygevoeg om die telling gelyk te maak. Nadat Lambie dit kort daarna 10-7 danksy ‘n strafdoel gemaak het, het Lwazi Mvovo ore platgetrek oor helfte van die veld om ‘n pragdrie te druk.

Die Highlanders het ná rustyd met nuwe vuur weggespring en die buksie-skrumskakel Aaron Smith het agter die pale gaan kuier.

Slade het die drie verdoel en nog twee strafskoppe oorgeklits om sy span met 20-15 te laat voorloop. Hy druk boonop ‘n skitterende drie ná goeie kommunikasie, ondersteuning en hope spoed deur ‘n aantal van sy medespelers.

Bosman het en Lambie het via onderskeidelik ‘n drie en verdoelskop die laaste punte van die wedstryd aangeteken nadat die Sharks die bal deur ‘n massiewe aantal fases gesit het.

Die laaste vyf minute was sekerlik van die senutergendste in vanjaar se kompetisie met die Sharks wat talle verwoede aanvalle op die Highlanders se doellyn geloods het danksy strafskoppe teen laasgenoemde. Die vraag kan gevra word: Moes hulle nie eerder pale toe geskop het en die twee punte gevat het vir ‘n gelykop-uitslag nie? Dit is iets waaroor hulle sal moet besin, maar vandag sal hulle met een punt tevrede moet wees – dieselfde as laas week toe die Chiefs hulle geklop het.

Hulle gaan nie veel tyd vir trane en nabetragting hê nie want die voormalige kampioene, die Reds, wag vir hulle in Brisbane in hul volgende kragmeting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.