Die grootste deel van Suid-Afrika kan nog tot na die naweek snikhete toestande te wagte wees, het ʼn weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens Vrydag gesê.
“Versengende hitte sal tot Sondag of Maandag voortduur met min kans op reën,” het Edwin Thema gesê.
Thema sê dit is ʼn normale somerweerspatroon en sal moontlik deur donderstorms gevolg word in die somerreënvalstreke.
Die SA Weerdiens het Vrydag ʼn spesiale kennisgewing uitgestuur oor warm toestande oor dele van die Noord-Kaap, Wes-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Noordwes en die Vrystaat.
Pretoria sal nagenoeg 36 grade Celsius bereik, Lephalale en Mokopane 35 grade Celsius en Beaufort-Wes 36 grade Celsius. Upington sal Vrydag moontlik 39 grade Celsius bereik.
Thema sê dit is moeilik om te voorspel of dit die laaste hittegolf dié somer sal wees.
Synock Matobako, woordvoerder vir die Johannesburgse nooddienste, het die publiek aangeraai om voorsorgmaatreëls teen hitte-uitputting en sonbrand te tref. “Drink baie water en moenie tussen 10:00 en 16:00 in die son wees nie,” het Matobako gesê.
Kinders moet in ligte klere geklee wees en met sonskerm gesmeer word. “Babas huil gewoonlik wanneer hulle ongemaklik is weens die hitte, en kan dan in ʼn koel, maar nie yskoue nie, bad geplaas word. Niemand moet, selfs vir ʼn kort rukkie, in ʼn motor gelaat word nie.