Hittegolf tref Gauteng

hittegolfDie Suid-Afrikaanse Weerdiens het Donderdag ʼn waarskuwing uitgereik dat ʼn hittegolf Gauteng en sommige dele van die land getref het, wat tot die naweek gaan voortduur.

Donderdag gaan die kwik in Pretoria tot 38 grade Celsius styg. Puseletso Mofokeng, ʼn weervoorspeller, het gesê hittegolwe kom voor wanneer verwagte temperature vir ʼn sekere tydperk van die jaar vyf grade hoër is as gewoonlik en die toestand vir langer as drie dae voortduur. Gauteng se temperature word toegeskryf aan ʼn hoëdrukstelsel oor die gebied.

Werner Vermaak, ʼn woordvoerder van ER24, het gewaarsku dat inwoners uiters versigtig moet wees tydens ʼn hittegolf omdat hitte-uitputting maklik kan voorkom.

“Maak seker jy drink baie water en moet glad nie kinders of troeteldiere alleen in ʼn geslote voertuig los nie,” het hy Donderdag gewaarsku. Hy het gesê buitemuurse aktiwiteite moet beperk word en mense wat buite werk moet probeer om soveel as moontlik in die skadu te wees. “Hou veral gereeld kontak met bejaarde mense wat alleen bly of mense wat nie maklik op hul eie kan rondbeweeg nie.”

Tekens van hitte-uitputting is duiseligheid, spierpyne, braking, hoofpyn, warmgloede en uitermatige sweet. “As die tekens by iemand waargeneem word en hulle verloor hul bewussyn, ontbied dadelik hulp. Draai die persoon op sy sy, verwyder ekstra klere en probeer om die persoon stelselmatig af te koel totdat paramedici opdaag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kay ·

Dit was die hele week hier in Canberra Australia in die hoë 30grade en gister en vandag 41grade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.