“Hoe is dit regverdig?”

“Ek het al vier jaar vir die departement gewerk toe die persoon [wat die werk bo my gekry het] eers gebore is. Hoe is dit regverdig?”

Dit was gister die getuienis van Derick Wehr in die arbeidshof in Kaapstad oor ʼn 26-jarige man wat bo hom aangestel is ondanks die feit dat hy al 33 jaar vir die departement werk. Wehr en nege ander applikante word deur die vakbond Solidariteit verteenwoordig nadat hulle deur die departement van korrektiewe dienste (DKD) oor die hoof gesien is vir bevordering weens hulle velkleur. Wehr, wat tans as werkswinkelbestuurder in die Drakenstein-bestuursarea waarneem, was een van vyf applikante wat gister sy getuienis gelewer het met die hervatting van die saak. Jan Kotze, Desiree Merkeur, Deidre Jordaan en Teresa Abrahams het ook getuig. Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê die regering weerspreek homself oor die konsep van absolute rasseverteenwoordiging. “Terwyl dié konsep een van die hoekstene van die DKD se saak is, het die Kommissie vir Billike Indiensneming aangedui dat rasseverteenwoordiging nie rigied toegepas hoef te word nie.”

Abrahams, wat “sterk aanbeveel” is vir ʼn pos in die departement sê Breederivier-bestuursarea, sê sy is nie aangestel nie weens die departement se toepassing van kwotas. Marumo Moerane SC, vir die DKD, het aan haar gesê: “Jy is nie aangestel nie aangesien die pos geskrap is.” Abrahams het geantwoord: “Hulle verwerp ons omdat ons bruin is.” Merkeur, wat tans in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) werk, het in haar getuienis gesê dat sy in September 2011 vir ʼn pos by die DKD aansoek gedoen het en “sterk aanbeveel” is daarvoor maar sedertdien niks gehoor het nie. Moerane het dit ook aan haar gestel dat die pos geskrap is. Merkeur sê sy verstaan nie hoekom sy op die kortlys verskyn, vir onderhoude genooi word en vir ʼn pos aanbeveel word al weet die departement dat die spesifieke pos “oorverteenwoordig” is deur bruin mense nie. ʼn Groep mense het oor etenstyd buite die hof betoog teen die DKD se toepassing van regstellende aksie. Teboho Mokoena, hoof adjunk-kommissaris van menslike hulpbronne by die DKD, het ook die media te woord gestaan oor die departement se beleid.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.