Hoë wanvoeding in De Doorns

De Doorns

De Doorns

De Doorns in die Wes-Kaap het een van die hoogste koerse van wanvoeding in die land, het die departement van maatskaplike ontwikkeling Saterdag gesê.

Die departement het ‘n openbaredeelname-program by dié plaasgemeenskap gehou om verskeie kwessies aan te spreek. “Dit het daartoe gelei dat die minister, Bathabile Dlamini, ‘n vergadering met die gemeenskap van De Doorns belê het,” het die departement in ‘n verklaring gesê.

Ander probleme wat uitgelig is, sluit dwelmgebruik en ‘n hoë voorkoms van fetale alkoholsindroom in. Dlamini het planne bekend gemaak oor dienste wat die departement aan die gemeenskap sal lewer. “Ons moet seker maak dat alle kinders wat vroeë kinderontwikkelingsdienste benodig, veral kinders jonger as vier jaar oud, dié dienste ontvang,” het Dlamini gesê. Sy het ook gesê dat alle kinders, in die nege skole in die omgewing, volgende jaar skoolklere sal ontvang. “Baie min gesinne in De Doorns kan skoolklere bekostig weens die armoede in die gemeenskap.”

Die departement sal nog ses maatskaplike werkers tydelik in die gebied ontplooi, totdat ‘n langtermynoplossing gevind kan word.

De Doorns is ‘n plaasgebied met seisoenale indiensneming. Boere in die gebied verskaf werk aan sowat 30 000 mense op ‘n permanente basis, en ‘n verdere ongeveer 40 000 mense binne seisoen tussen September en April. “Dit is veral buite seisoen dat ander maatskaplike uitdagings, soos wanvoeding en alkohol- en dwelmmisbruik voorkom.”

Die departement sal gereeld opnames in die gebied doen om te bepaal hoeveel kinders vroeë kinderontwikkelingsdienste benodig, sodat hul behoeftes aangespreek kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tante Afrikana ·

Dis altyd vir my onverstaanbaar dat mens geld het vir dwelms en alkohol, maar nie geld vir ordentlike kos nie……en hoekom hoekom hoekom het die armste van armes altyd swetterjoel kinders ??? Ons lewe mos darem nie meer in die donker eeue nie…

H J Bester ·

Die wanvoeding is juis as gevolg van die hoë alkohol en dwelmmisbruik maar dit pas die ANC-regering om die blaam op wanvoeding te plaas. Dit het vir hulle die geleentheid geskep om weereens neus in die Wes-Kaap te kom steek – in hierdie geval met die weldaad wat hulle kamma in de Doorns kom verrig.

Maar eintlik is dit om die Wes-Kaap, met die oog op die 2014-verkiesing, weer poog terug te wen vir die ANC. Verbeel ek my of het ek vir Nosey Pieterse ook op een van die foto’s saam met die Minister gesien ! Nosey is mos die ANC se voorbok in die Wes-Kaap.

Jasper ·

Drank en dwelms eerste. Kos, klere en opvoeding laaste
Dan word die massas deur half geleerdes opgestook om die blaam op die Boere te pak

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.