Hoedspruit se militêre mediese sentrum in haglike toestand

Beseerde soldate moes al met ’n kruiwa na die sentrum gestoot word as gevolg van 'n tekort aan ambulanse.

Hoedspruit se militêre mediese sentrum bedien 11 000 mense sonder ’n ambulans en voldoende medisyne en toerusting. Beeld berig die laaste van die sentrum se vier ambulanse het onlangs die gees gegee. Lugmagtegnici het dié nou só herstel dat hy darem in ’n noodgeval teen so 80 km/h kan voortkruie.

Van die rekrute wat tydens opleiding seergekry het, moes al met ’n kruiwa na die sentrum gestoot word. Dít is die haglike situasie by die weermag se enigste mediese fasiliteit in ’n radius van sowat 200km.

Die sentrum is veronderstel om 12 mediese ordonnanse te hê, maar het tans net twee. Die res doen diens aan die grens en in buitelandse vredesoperasies.

Die water in die sentrum is glo ook modderig – slegs steriele water kan saam met tandheelkundige en radiologiese toerusting gebruik word om te voorkom dat dit beskadig. Die tekort aan steriele water het ook tot gevolg dat antibiotika nie in die sentrum se apteek gemeng kan word nie.

Afgesien van die verskeie opleidingsgroepe het die weermag ingevolge ’n ooreenkoms met die Eastgate-lughawe ook ’n verpligting om ’n mediese diens aan burgerlike besoekers te lewer. Die sentrum het die begin van die jaar weliswaar vyf nuwe dokters en ander mediese personeellede bygekry, maar sonder die nodige toerusting kan hulle ook nie werk nie, het Beeld verneem. Die basis word nou verplig om teen astronomiese bedrae van burgerlike ambulansdienste gebruik te maak.

Kol. Louis Kirstein, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Militêre Gesondheidsdiens, het in reaksie op ’n lang lys vrae aan Beeld gesê hy is bewus van “bepaalde uitdagings” by die sentrum en dit geniet aandag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.