Hof beslis Distrik Ses-besetters moet uit

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Donderdag beslis dat die groep Khoi-aktiviste wat ʼn woonstelkompleks in Distrik Ses beset het, uitgesit moet word.

“Die respondente kon nie daarin slaag om te bewys dat hulle geldelige redes het om die wooneenhede te beset nie,” het regter Robert Henney tydens ʼn dringende verhoor, wat 11 ure lank geduur het, beslis.

Die hof sal volle argumente op 9 Julie aanhoor, wanneer dit finaal sal beslis of die uitsetting wettig was en van krag behoort te bly.

Donderdag se hofgeding volg nadat die groep Saterdag glo onwettig ʼn woonstelkompleks in Distrik Ses in Kaapstad beset het. Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming het kort daarna ʼn dringende uitsettingsbevel verkry sodat die groep ontruim kon word. Die groep voer aan die gebied in Kaapstad is “grond van die Khoi-voorvaders”.

Die groep het aangevoer dat die tussentydse bevel wat Maandag toegestaan is, nie bepaal het wanneer hulle die eenhede moes ontruim nie, en dus nie geldig is nie.

Die woonstelkompleks, wat in 2011 voltooi is, bevat ondermeer 115 eenhede wat geoormerk is vir begunstigdes van die Distrik Ses hervestigingsinisiatief.

Die wettige begunstigdes was veronderstel om verlede Saterdag in te trek, maar die proses is uitgestel.

“Die wettige begunstigdes van die eiendom is gereed om in te trek, maar die onwettige besetters verhoed hulle om dit te doen,” het Mtobeli Mxotwa, woordvoerder van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, gesê.

Na verwagting sal die wettige begunstigdes komende Saterdag kan intrek.

Lees ook:
Distrik Ses-besetters wil bly
“Grondeienaars” vat glo 15 huise in Distrik Ses

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.