Hof beslis loodgieter kry hepatitis aan diens

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het beslis dat ʼn loodgieter, wat ʼn hepatitis-virus by sy werkplek opgedoen het, dit wel aan diens opgedoen het.

Nazeem Mallie, lid van die vakbond Solidariteit, het in September 2004 hepatitis B opgedoen het terwyl hy as ʼn loodgieter by die Suid-Afrikaanse Vloot se skeepswerf in Simonstad gewerk het.

Mallie se gesondheid het erg agteruitgegaan nadat hy gediagnoseer is en die siekte het ook emosioneel sy tol geëis. Mallie se werkgewer het die saak vroeg in 2005 by die vergoedingskommissaris aangemeld, maar laasgenoemde het aangevoer dat hy nie oortuig is dat die lid se siekte uit sy werk voortgespruit het nie. Die lid het beswaar teen die beslissing aangeteken, maar tydens die aanhoor van die beswaar in November 2007 kon geen beslissing hieroor gemaak word nie.

Kragtens die wet moes die voorsitter van die tribunaal wat die beswaar aangehoor het, die saak na die hof verwys het. Die saak het gesloer en is uiteindelik, ná uitoefening van druk deur Solidariteit, na die hooggeregshof in Kaapstad verwys.

Advokaat Paul Mardon, hoof van Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid, sê Mallie se saak sal nou terugverwys word na die vergoedingskommissaris sodat die vergoeding waarop hy geregtig is, bereken kan word.

“Die uitspraak bring ‘n lang uitgerekte stryd nader aan afhandeling. Dit is ʼn waterskeidingsuitspraak, aangesien dit ook nuwe riglyne neerlê oor die proses wat gevolg moet word wanneer die tribunaal nie tot ʼn eensgesinde beslissing kon kom nie en dit na die hof verwys moet word,” het Mardon gesê. “Só ʼn beslissing kan slegs bereik word indien een van die assessore met die voorsitter se beslissing saamstem.”

Kragtens die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes moet die voorsitter van die tribunaal wat ’n beswaar aanhoor dit na die hof verwys indien daar nie ʼn beslissing gemaak word nie. “Die voorsittende beampte beskik egter nie oor die nodige hulpbronne hiervoor nie en dit het tot gevolg dat talle sake sloer,” het Mardon bygevoeg. “Regter A.J. Koen het in sy uitspraak gelas dat die direkteur-generaal van die departement van arbeid só ʼn saak moet verwys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.