Hof beslis ten gunste van AfriForum in muilbandsaak

Argieffoto

Argieffoto

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het ʼn dringende aansoek van die omstrede sakeman Wandile Bozwana teen AfriForum met koste van die hand gewys.

Dit volg ná ʼn vroeëre mediaverklaring van AfriForum se organiseerder in die Noord-Kaapstreek, Wesley Martin, rakende Bozwana se twyfelagtige tendertransaksies. AfriForum is namens sy Kuruman-tak betrokke by ’n afsonderlike regstryd om die uitbetaling van meer as R4 miljoen belastinggeld aan Bozwana se maatskappy TEB Properties te verhoed.

AfriForum het in sy mediaverklarings kommentaar gelewer op sekere sakepraktyke van Bozwana en sy talle maatskappye, wat al meer as 2 jaar lank in die media figureer. Volgens een so ‘n berig wat in die Mail & Guardian verskyn het, het ‘n voormalige kollega van Bozwana aangevoer dat hy op ‘n onwettige wyse tenderdokumentasie bekom het. Verder is beweer Bozwana verkry tenders terwyl hy oor geen infrastruktuur beskik of die nodige kundigheid en ervaring het nie.

Volgens AfriForum is TEB Properties en sy direkteur, Bozwana, nou reeds bekend vir kooptransaksies en tenders wat skeefloop, en eise vir vergoeding wat daarna ingestel word. Die burgerregte-organisasie sê dit lyk asof dit ʼn patroon geword het.

“AfriForum verwelkom die bevel en gaan voort om in die openbare belang op te tree en glo verder dat tendertransaksies tussen privaat maatskappye en munisipaliteite beslis in die openbare belang is,” het Werner Human, AfriForum se regsverteenwoordiger, gesê.

AfriForum se hersieningsaansoek in die Noord-Kaapse hooggeregshof in Kimberley om ‘n resolusie van die Raad tersyde te stel wat ‘n betaling van R4,25 miljoen aan Bozwana goedgekeur het, word op 5 Desember in dié hof aangehoor.

Lees ook:
“Omstrede” sakeman wil AfriForum muilband
AfriForum-aansoek stuit R4 miljoen-betaling aan omstrede sakeman

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

Mens kan maar net die hoogste lof hê vir die burgerlike onganisasie AfriForum wat grootskaalse werk verrig om omstredenhede aan die lig te bring en vele gevalle van moontlike korrupsie via hofgedinge te keer. Bravo AfriForum !!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.