Hof besluit oor borgtog vir Papapavlou-vrou

Simone Papapavlou in die beskuldigde bank in die landdroshof (Foto: Tania Heyns)

Simone Papapavlou, vrou van die vermoorde plaasvoorman Raymond Papapavlou en nou beskuldigde in sy moord, is vir minstens die volgende jaar ʼn vry vrou.

Die 26-jarige Simone is Donderdag ná sowat twee weke in aanhouding borgtog van R15 000 in die landdroshof in Groblersdal, Limpopo, toegestaan.

Simone moet weer in November 2022 in die hooggeregshof in Polokwane verskyn wanneer sy en haar beweerde minnares en medebeskuldigde, Patricia Ray Lee Smith, verhoor sal word.

Landdros Eliot Buthane het vanoggend gesê die borgtogaansoek kon enige kant toe gaan.

Volgens Buthane het die staat én die verdediging goeie argumente gehad, maar hy het tog eindelik beslis dat Simone ʼn goeie kandidaat vir borgtog is.

Buthane het egter daarop gewys dat die toestaan van borgtog hoegenaamd nie beteken dat Simone nie haar dag in die hof sal kry nie. Hy het daarop gewys dat ʼn landdroshof nie die lot van ʼn beskuldigde bepaal nie, maar bloot of die beskuldigde vorentoe vir hofverrigtinge sal opdaag.

“Die wiele van geregtigheid draai en uiteindelik sal die waarheid seëvier.”

Buthane het ook daarop gewys dat Simone die naaste of mees direkte getuie in die saak is. Sy het dus ʼn “plig” teenoor die hof om haar weergawe van gebeure, asook haar optrede en gedagtegang tydens die verhoor te verduidelik.

Simone is ook streng gewaarsku om haar borgtogvoorwaardes na te kom. Simone sal tot die datum van haar verhoor by haar ouers in Bronkhorstspruit tuisgaan en moet haar onder meer elke Maandag en Vrydag by die plaaslike polisiestasie aanmeld. Sy moet ook die polisiestasie in kennis stel as sy uit die omgewing beweeg en mag hoegenaamd nie aansoek doen om reisdokumente nie.

Simone Papapavlou buite die landdroshof in Groblersdal (Foto: Tania Heyns)

Simone en Smith word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om Papapavlou in Oktober verlede jaar te vermoor en dit soos ʼn moontlike plaasaanval te laat lyk. Hulle was glo ten tyde van die moord in ʼn romantiese verhouding betrokke.

Die ondersoekbeampte AO Debbie van Zyl het gedurende die borgtogaansoek getuig dat sy en Smith vir Papapavlou wou “uithaal”, omdat hy na bewering in die pad van hul liefdesverhouding gestaan het.

Van Zyl het ook aangevoer dat geld nie as motief vir die moord uitgeskakel kan word nie, aangesien Raymond voor sy dood twee lewensversekeringspolisse uitgeneem en dit aan Simone as begunstigde uitgemaak het.

Simone en Smith het glo al in 2019 aan Papapavlou se moord begin beplan, sowat ʼn jaar ná Simone en Papapavlou getrou het. Daar was ook maande voor die moord ʼn aanslag op Papapavlou se lewe toe daar na bewering rotgif op sy braaibroodjie gegooi is.

Papapavlou is op 4 Oktober in sy en Simone se plaashuis tussen Groblersdal en Stofberg geskiet. Hy het op ʼn bed in die egpaar se slaapkamer gelê en slaap terwyl sy vrou glo in die sitkamer televisie gekyk het.

Simone ontken alle betrokkenheid by die moord en die verdediging hou vol die vroue en Papapavlou was al drie saam in ʼn seksuele verhouding.

Sonja Weideman, Simone se regsverteenwoordiger, hou vol daar is geen bewyse wat haar kliënt direk met die moord verbind nie en dat die staat ʼn swak saak het. Sy het voorts gesê die staat maak staat op omstandigheidsgetuienis, hoorsê en die ondersoekbeampte se blote mening.

Simone staan tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, die besit van ongelisensieerde ammunisie en regsverydeling.

Lees alles oor Papapavlou se moord hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SjN ·

Die twee duifies gaan n verdwyn pil drink, hoekom vir n jaar uitstel?

Misky ·

‘n Hele jaar en 3 maande het die 2 nou tyd om planne te beraam en met getuies te konkel. Ons regstelsel laat telkemale die vermoordes in die steek

Leana ·

As ek sy was het ek eerder gevra om in die tronk te bly. Ek sou te skaam wees om my gesig in die openbaar te wys.

Kirst ·

Nou wonder ek wat sou gebeur het as sy ‘n man was. As hy en ‘n minnares sy vrou na bewering vermoor het omdat hulle ‘n buite egtelike verhouding gehad het en sy was in die pad. Sou hy dan borgtog gekry het?

Casper ·

Soos dinge nou staan is daar geen prima facie bewyse teen Simone nie.Alles is inderdaad omstandigheidsgetuienis en daarom is borg aan haar toegestaan.Die ondersoek is nog lank nie afgehandel nie.Daar word nog gewag vir ballistiese en forensiese uitslae en ons weet hoe vêr die polisie agter is wat dit aanbetref.

KB ·

Wat ‘n skandalige laagtepunt het ons regstelsel nie bereik nie!
“Fire” die regter/landdros.

Henk ·

Ons regstelsel is n gemors. Hoeveel tyd het hulle nodig om so n eenvoudige saak te ondersoek en te verhoor as iemand aangekla moet word nie…..skandelikl!

Casper ·

Henk,wat is so eenvoudig aan die saak.Kom ek lig net punte uit,wat die saak laat sloer;
1 Jy is onskuldig tot jy skuldig bevind is.
2 Wie se vuurwapen is gebruik om die moord te pleeg..
3 Watter weergawe van Smit of Simone is geloofwaardig.
4 Ballistiese en forensiese toetse moet getoets word.
5 Smit moet op die toneel geplaas word en dit moet bewys kan word hetsy deur tegnologie of bewyse.
6 Getuies moet nog ondervra word en verklarings verkry word.
Smit het ‘n alibi.Die wegneemete strokie wat staaf dat sy nie op die plaas was nie.Dit moet deur bewyse weerlê word.
7 Die sogenaamde 3 hoek verhouding moet bewys word ens ens ens.
So jy sien Henk dit is nie ‘n open en shut case nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.