Hof beveel in Solidariteit se guns in SAAT-diskriminasiesaak

Argieffoto.

Argieffoto.

Die arbeidshof in Johannesburg het vandag beveel dat ʼn Solidariteit-lid met onmiddellike effek in die pos van lugvaarttegnikus by South African Airways Technical (SAAT), die tegniese afdeling van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), aangestel moet word en dat ʼn ander lid vergoeding moet ontvang nadat die vakbond ʼn saak van onbillike diskriminasie op grond van ras aanhangig gemaak het.

Die hofbevel is uitgereik nadat ʼn skikking tussen Solidariteit en SAAT bereik is. Vroeër die week reeds is ʼn skikking vir nog ʼn Solidariteit-lid bereik. Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê volgens die hofbevel moet Casper Hendrik Mulder met onmiddellike effek in die pos van lugvaarttegnikus, ʼn pos waarin hy reeds waarneem, aangestel word. “Daar is ook verder beveel dat Marthinus Cornelius Coetzer, wat intussen die diens van SAAT verlaat het, vergoeding van meer as R159 000 moet ontvang. Dit volg nadat daar Maandag met die aanvang van die saak ʼn skikking met Ettienne van der Berg bereik is waarvolgens hy terugwerkend tot April 2011 as lugvaarttegnikus aangestel sal word. Die hof het intussen ook beveel dat SAAT Maandag se regskoste ten volle moet betaal sowel as ʼn derde van Solidariteit se regskoste vir Dinsdag en Woensdag.”

Groenewald sê die skikking met SAAT is ʼn bewys daarvan dat poste nie gereserveer kan word nie. “Poste kan nie vakant gelaat word nie in omstandighede waar daar nie geskikte swart kandidate is nie, maar waar daar wel wit kandidate is wat aansoek doen en geskik is vir aanstelling. Dit is eenvoudig onbillike praktyk onder die vaandel van regstellende aksie. Daar is openlik aan die kandidate bevestig dat hoewel hulle bevoeg is om in die poste aangestel te word, ʼn besluit geneem is om die poste te reserveer. Ons is van mening dat werkgewers, strydig met wetgewing, eenvoudig ʼn wiskundige benadering tot regstellende aksie volg ongeag die impak daarvan op bekwame individue wat ooglopend geskik is vir aanstelling.”

Solidariteit het in 2011 ’n saak van onbillike diskriminasie op grond van ras namens die drie lede na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys. Die KVBA het die saak in 2012 na die arbeidshof verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.