Hof gevra om polisie se regstelplan ongeldig te verklaar

Die vakbond Solidariteit het Donderdag stukke by die arbeidshof in Johannesburg ingedien waarin die hof gevra word om die polisie se regstellendeaksie-plan in sy geheel ongeldig te verklaar. Die vakbond is mening is dat dit strydig is met die Wet op Gelyke Indiensneming en die Grondwet van Suid-Afrika. In sy stukke fokus Solidariteit op die polisie se toepassing van kwotas volgens die nasionale rassedemografie.

Indien Solidariteit se aansoek suksesvol is, kan dit verreikende implikasies vir die hele staatsdiens hê aangesien ander staatsdepartemente se regstellendeaksie-beleide op dieselfde beginsel as dié van die polisie gebaseer is.

ʼn Suksesvolle uitspraak sal boonop ʼn presedent skep waaraan die privaatsektor ook gebonde sal wees.

Dit is die eerste keer dat die hof gevra sal word om die hele regstellendeaksie-plan van die polisie as ongeldig te verklaar. Dit volg nadat Solidariteit die polisie reeds in 14 afsonderlike sake hof toe geneem het.

Volgens Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, is die kern van die probleem in die geval nie individue teen wie die polisie verkeerd opgetree het nie, maar die plan self. “Ons kan nie aanhou om individuele sake hof toe te neem nie. Ons gaan nou vir die eerste keer die wortel van die probleem, naamlik absolute rasseverteenwoordiging, hof toe neem.”

Volgens Solidariteit se hofstukke kom die polisie se regstellendeaksie-plan neer op maatskaplike manipulasie gebaseer op blatante ras- en geslagskwotas.

“Die plan neem nie die vaardighede van polisielede in ag nie en offer dienslewering ten gunste van rasseverteenwoordiging op. Die primêre verantwoordelikheid van die polisie is nie rassetransformasie nie, maar die veiligheid van Suid-Afrikaanse burgers,” sê Hermann.

Die polisie-saak volg op ʼn soortgelyke hofsaak wat Solidariteit namens vyf lede teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) aanhangig gemaak het. Die DKD het die ideologie van rasseverteenwoordiging so streng toegepas dat die nasionale rassesyfers op die Wes-Kaap toegepas is. Die DKD se plan bepaal dat bruin Suid-Afrikaners slegs 8,8% van die werknemers in die DKD in die Wes-Kaap moet uitmaak, terwyl bruin Suid-Afrikaners sowat 53% van die ekonomies aktiewe bevolking in die provinsie uitmaak. Die gevolg is dat bevordering vir bruin werknemers in die DKD byna onmoontlik is aangesien hulle van 53% na 9% “afbestuur” moet word.

“Die probleem is dat hierdie idee van absolute rasseverteenwoordiging al so algemeen in die praktyk toegepas word dat werkgewers begin glo dit is reg. Solidariteit wil die hof vra om uitspraak te gee oor die vraag of hierdie praktyk deur die Wet op Gelyke Indiensneming en die Grondwet van Suid-Afrika toegelaat word.

“Die ironie is dat die mense wat die hardste deur hierdie rasse-ideologie getref word gewone Suid-Afrikaners is wat op verskillende terreine slagoffers is van swak diens, insluitende swak polisiediens. Die meeste van die slagoffers is swart Suid-Afrikaners wat eintlik deur regstellende aksie bevoordeel moes word,” sê Hermann.

Hofdatums vir beide sake word nog afgewag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae