Hof hoor Kotzé se medebeskuldigdes is nie gedreig

Die drie verdagtes tydens hul hofverskyning Vrydag. Die foto is deur @Jacanews op Twitter gelaai.

Die drie mans wat Ina Bonnette glo om die beurt verkrag het, is nie deur haar eksman, Johan Kotzé, met ʼn vuurwapen gedreig nie, het die Modimolle landroshof Maandagoggend tydens hul borgaansoek gehoor.

Die ondersoekbeampte, Hendrick Kruger, sê in sy beedigde verklaring dat Andries Sithole (42), Peter Mohlako (34) en Frans Mphaka (38) tydens die uitwysing van die misdaadtoneel nie genoem het dat hulle met ʼn vuurwapen gedreig is nie. Hy sê Sithole het aan die polisie gesê dat hul Bonnette probeer verkrag het maar nie ereksies kon kry nie. Kruger sê volgens selfoonrekords het Sithole en Kotzé minstens 22 keer met mekaar gepraat vanaf 22 Desember tot en met die dag van die voorval op 3 Januarie. Kruger sê volgens die drie beskuldigdes het Kotzé aan hul gesê dat hy wil hê hulle moet seks met sy vrou hê aangesien sy te vet is en van hom wil skei. Hy het glo beloof om hulle na die tyd te betaal. Kruger sê Kotzé het die drie glo beveel om in ʼn hangkas weg te kruip. Toe Bonnette by die huis aankom het hulle haar glo oorval, aan die bed vasgemaak en haar probeer verkrag. Kotzé het hulle glo na die tyd beveel om na die kombuis te gaan waarna hulle glo weggehardloop het. Kotzé het Bonnette na bewering hierna vir ure lank gemartel en gru-dade met haar gepleeg. Hy het glo ook haar seun, Conrad (19), doodgeskiet. Kruger sê indien die drie beskuldigdes onskuldig is, sou hul hulself aan die polisie oorgegee het toe hulle gehoor het Kotzé is in hegtenis geneem. Hy sê dit is vreemd dat die beskuldigdes vir Kotzé gewag het om hul op te laai nadat hulle van die toneel gevlug het. Die staatsaanklaer, Renier van Rooyen, het aangevoer die drie beskuldigdes moet nie borg kry nie aangesien die misdaad wat hulle glo gepleeg het baie gewelddadig was. Van Rooyen het onder meer uitgebrei oor die grusame aanranding op Bonnette. Die borgaansoek duur voort.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.