Hof hoor oor e-tol-wetgewing

Argieffoto

Argieffoto

Die Wes-Kaapse hooggeregshof sal Dinsdag argumente hoor dat wetgewing rakende die Gautengse e-tolstelsel ongrondwetlik verklaar moet word.

Mmusi Maimane, woordvoerder van die DA, sê die party het die hof genader aangesien die Wysingswetsontwerp op Vervoerwette en Verwante Sake, die sogenaamde e-tolwet, foutiewelik deur die parlement goedgekeur en deur president Jacob Zuma onderteken is. Maimane sê indien die saak suksesvol is sal die wetgewing terug na die parlement verwys word en sal daar ʼn tweede keer daaroor gedebatteer moet word. Maimane sê hulle gaan aanvoer dat die wet foutiewelik deur die Nasionale Vergadering as ʼn artikel 75-wetsontwerp (wat slegs in die parlement debatteer word) aangedui is, en nie ʼn artikel 76-wetsontwerp (wat in die parlement en provinsies debatteer word) nie. Hy sê indien die DA die saak in die hooggeregshof wen sal die aangeleentheid onmiddellik na die konstitusionele hof verwys word.

Die Vryheidsfront Plus het die DA intussen van ‘politieke opportunisme’ beskuldig en sê die DA se hofaansoek is op die VF Plus se argumente oor die geldigheid van die e-tolwet gegrond. Die VF Plus se hofaansoek in die Gautengse hooggeregshof in Desember 2013 om die geldigheid van die e-tolwet op ‘n dringende basis te oorweeg en ‘n interdik teen die inwerkingstelling daarvan te bekom, is van die hand gewys. Die VF Plus het die hofaansoek daarna op die gewone rol laat plaas en die saak sal binnekort aangehoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frik Lotz ·

Die VF Plus veg al van die begin af n alleenstryd teen e-tol en het duidelik gesê dis ongrondwetlik. Nou skielik gebruik DA dieselfde argumente as VF Plus en gaan ook hof toe. Dis niks anders as politieke opportunisme nie. DA probeer nou allerhande truuks uithaal voor verkiesing om kiesers te probeer beindruk. VF Plus is standvastig en konsekwent in hul optrede. Kiesers moet kyk wie werklik hul belange op die hart dra en dis beslis nie die DA nie! VF Plus is die party om voor te stem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.