Hof hoor oor oproepe tussen Henning-moordbeskuldigdes

Andre Gouws tydens sy hofverskyning op 24 Januarie. Foto: SAPA

Die voormalige Olimpiese atleet Ambrose Monye wat beskuldig word van die moord op Chanelle Henning het haar eksman se vriend 55 keer gebel in die maand voor die moord.

ʼn Forensiese selfoonkenner, Francois Moller, het in die Pretoria landdroshof getuig dat daar 55 oproepe was tussen Monye en Andre Gouws, en ʼn verdere 34 oproepe wat Gouws nie beantwoord het nie. Gouws het Monye 26 keer gebel in die maand voor 8 November toe Henning doodgeskiet is kort nadat sy haar seuntjie by ʼn kleuterskool in Faerie Glen afgelaai het. Moller het getuienis gelewer in Gouws, wat glo die moord gereël het, se borgaansoek. Moller sê Gouws het alle oproepe tussen hom en Henning se vervreemde man, Nico, van sy selfoon afgevee. Oproepe aan Monye is ook afgevee maar selfoonrekords wys wel die oproepe.

Moller sê daar was geen “suksesvolle kommunikasie” tussen Henning en Gouws na die moord nie. Henning het die dag na die moord op sy vervreemde vrou sy selfoon as vermis aangegee en ʼn ander nommer gebruik. Moller sê daar was geen rekord van oproepe van die nommer na Gouws se selfoon nie. Hy het getuig dat Gouws volgens inligting van selfoontorings verskei kere voor die moord naby aan Chanelle se huis was. Kringtelevisie-kameras in die Faerie Glen-area waar Chanelle gebly het, het by drie geleenthede ʼn Ford Bantam bakkie met weerkaatsband op en ʼn blou motorfiets met ʼn donker windskerm in die omgewing opgemerk. ʼn Bakkie en motorfiets met dieselfde beskrywing is op beslag gelê by Gouws se huis in Centurion. Moller het getuig dat Gouws nie ʼn bankrekening in sy naam het nie maar dat daar op die dag van moord R44 000 uit die Andre Gouws familietrust rekening in Centurion gemaak is. Dit was sowat drie ure nadat Henning vermoor is. Moller sê volgens selfoonrekords het Gouws se selfoon van Centurion na Brooklyn na die Pretoriase middestad beweeg en weer terug na Centurion waar die geld onttrek is. Uitspraak in Gouws se borgaansoek word more verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.