Hof hoor pa steek lyke aan die brand om seun te beskerm

ʼn Jong man wat sewe jaar gelede twee vermeende onwettige jagters op sy pa se plaas doodgeskiet het, het aan die hooggeregshof in Pretoria gesê dat hy uit selfverdediging opgetree het.

Dyllan Douw de Beer (19) en sy pa Douw de Beer (51) van Boschkop buite Pretoria het onskuldig gepleit op twee aanklagte van moord en een van diefstal. De Beer senior het egter skuldig gepleit op aanklag van regsverydeling aangesien hy die slagoffers se liggame aan die brand gesteek het. De Beer junior voer aan dat hy in April 2004 besig was om springbokke te jag op sy pa se plaas toe hy ʼn skoot gehoor het en ʼn beseerde vlakvark gesien het. Hy het iemand hoor skree en ʼn skoot het verby sy kop getrek. Hy het tot die besef gekom dat iemand op hom skiet en het ʼn man in kamoefleerdrag by die plaas se heining gesien. Die man het op De Beer begin skiet en hy het geantwoord met twee skote in die aanvaller se rigting. De Beer junior sê hy was geskok en het gehuil toe hy by die huis aangekom het en aan sy pa vertel het wat gebeur het.

Hy en sy pa het teruggegaan na die plek waar die voorval plaasgevind het. Hulle het die dooie vlakvark gekry en gesien twee mans lê langs die heining. Albei mans was in die bors geskiet en dit het gelyk of hulle deur dieselfde skoot getref is. Terwyl De Beer junior geskok in die motor gesit het, het sy pa die twee lyke agter op sy bakkie gelaai en sy seun teruggevat huis toe. De Beer senior beweer hy was geskok toe hy die lyke gesien het en het besluit om dit aan die brand te steek ten einde sy seun, wat ten tyde van die voorval minderjarig was, te beskerm. Hy het later vrywillig ʼn verklaring aan die polisie gemaak aangesien dit hom gepla het. De Beer senior sê hy besef dat hy eerder die polisie moes ontbied na die voorval aangesien sy seun net homself beskerm het. Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.