Hof hoor taximan moet nie tronkstraf kry na dood van 10 kinders

Jacob Humphreys buite die Wes-Kaapse hooggeregshof op 8 November 2011. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPAVoorvonnis verrigtinge in die saak van ʼn taxibestuurder wat skuldig bevind is aan die moord op tien kinders sal Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof voortgaan.

Die hof het Maandag die geloofwaardigheid van ʼn kriminoloog se verslag, wat ter versagting van Jacob Humphreys (56) se vonnis ingedien is, bevraagteken. Humphreys is in Desember op tien aanklagte van moord en vier van poging tot moord skuldig bevind nadat hy op 25 Augustus 2010 oor ’n spooroorgang in Buttskopstraat, Black­heath, gery het. Sy taxi het voor ’n aankomende trein beland en tien kinders is dood. Die kriminoloog, Claire Wolff, stel in haar verslag voor dat Humphreys ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar kry op voorwaarde dat hy die mediese onkostes van die gesinne van die tien kinders betaal. Wolff sê Humphreys is bitter jammer oor wat gebeur het. Regter Robert Henney het gister vir Wolff gekritiseer aangesien sy nie verlede jaar se uitspraak in ag geneem het toe sy haar voorvonnis verslag opgestel het nie. Hy sê Humphreys beweer hy kan niks van die ongeluk onthou nie en dat sy weergawe dus buite rekening gelaat is. Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.