Voorvonnis verrigtinge in die saak van ʼn taxibestuurder wat skuldig bevind is aan die moord op tien kinders sal Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof voortgaan.
Die hof het Maandag die geloofwaardigheid van ʼn kriminoloog se verslag, wat ter versagting van Jacob Humphreys (56) se vonnis ingedien is, bevraagteken. Humphreys is in Desember op tien aanklagte van moord en vier van poging tot moord skuldig bevind nadat hy op 25 Augustus 2010 oor ’n spooroorgang in Buttskopstraat, Blackheath, gery het. Sy taxi het voor ’n aankomende trein beland en tien kinders is dood. Die kriminoloog, Claire Wolff, stel in haar verslag voor dat Humphreys ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar kry op voorwaarde dat hy die mediese onkostes van die gesinne van die tien kinders betaal. Wolff sê Humphreys is bitter jammer oor wat gebeur het. Regter Robert Henney het gister vir Wolff gekritiseer aangesien sy nie verlede jaar se uitspraak in ag geneem het toe sy haar voorvonnis verslag opgestel het nie. Hy sê Humphreys beweer hy kan niks van die ongeluk onthou nie en dat sy weergawe dus buite rekening gelaat is. Die saak duur voort.