Hof staan interdik teen rasplan toe

Christo February buite die arbeidshof. Foto: Reint Dykema

Die arbeidshof in Kaapstad het Vrydag ʼn dringende interdik teen die Departement van Korrektiewe Dienste se omstrede regstellendeaksie-plan toegestaan. Volgens die interdik mag die DKD nie voortgaan om die pos waarvoor ʼn Solidariteit-lid, Christo February, aansoek gedoen het te vul voordat die hoofsaak wat Solidariteit namens vyf DKD-werknemers by die arbeidshof in Kaapstad aanhangig gemaak het, aangehoor is nie.

In sy betoog het regter Robert le Grange gesê dat Solidariteit aan al die vereistes van ʼn dringende aansoek voldoen het. Die vakbond het ook daarin geslaag om ʼn prima facie-saak vir onbillike diskriminasie uit te maak. Die regter het gesê dat die DKD teen mnr February gediskrimineer het op grond van sy ras en dat niemand aangestel of bevoordeel is  nie. Hy het ook gesê dat die DKD absolute kwotas ten alle koste wil bereik en dat die Wet op Billike Indiensneming dit nie toelaat nie.

“Ons is verheug oor die uitspraak. Die is die eerste stap vir geregtigheid vir die werknemers van die DKD namens wie ons optree. Dit is jammer dat ons hof toe moes kom om so interdik af te dwing. Die DKD moes self ʼn sin vir billikheid gehad het, maar hulle voel so sterk oor die ideologie van verteenwoordiging dat hulle ten alle koste hof toe sal gaan om dit te verdedig,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit gesê.

Intussen het Solidariteit ook by die hof aangekondig dat hy nog vyf sake teen die Departement Korrektiewe Dienste se rasplan na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie verwys het. Dit sal die totale getal regstellendeaksie-sake teen die DKD opstoot na 10 en die totaal teen die Suid-Afrikaanse regering na 31.

“Ons het besluit om die hofaksie teen die DKD te verskerp. Daar is honderde mense wat deur die DKD se regstellendeaksie-plan onbillik benadeel word. Ons voorsien dat al tien sake gekonsolideer sal word om dit die grootste regstellende aksie in Suid-Afrika te maak,” het Hermann gesê.

“Die DKD het in die interdik-verhoor dit ondubbelsinnig gestel dat hulle plan op die absolute toepassing van die nasionale demografie gebaseer is en dat hulle dit so toepas. Hulle regsverteenwoordiger het selfs sover gegaan om te sê dat bruin persone na ander provinsies moet trek vir loopbaanbevordering. Hulle sal nie in die hoofsaak hierop kan teruggaan nie en die hof sal moet uitspraak gee of so plan geldig kan wees,” het Dirk Groenewald, hoof van die arbeidshofafdeling van Solidariteit gesê.

Al Solidariteit se sake teen die DKD fokus op die Departement se omstrede regstellendeaksie-plan. Volgens die plan moet die nasionale rassedemografie in alle posvlakke weerspieël word ongeag die profiel van die provinsie of streek. Die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap van bruin werknemers is sowat 51% terwyl die nasionale profiel sowat 8,8% van die totaal is. Dit beteken dat deur regstellendeaksieprogramme bruin persone van 51% in die Wes-Kaap na sowat 8,8% verminder moet word. Die gevolg is dat daar baie min of geen bevorderingsgeleenthede vir bruin persone in die Wes-Kaap is nie.

“Die DKD se plan is niks anders as ʼn reuse sosiale manipulasieprogram nie. Volgens die plan moet mense trek om regte te kry waarop hulle geregtig is. Suid-Afrikaners moet die volle beskerming van alle wetgewing ontvang en die vryheid hê om hulle beroepe onbevange te beoefen waar hulle ook al bly,” het Hermann bygevoeg.

Lees uitspraak hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.