Hof verwerp appélaansoek oor twee van “Waterkloof-vier”

Gert van Schalkwyk (links) en Reinach Tiedt (regs) tydens vroeëre hofverskynings. Foto's:SAPA

Die Pretoriase landdroshof het ʼn aansoek van die departement van korrektiewe dienste om appèl aan te teken teen die vrylating van twee lede van die sogenaamde “Waterkloof-vier”, verwerp.

Die departement het aansoek gedoen appèl aan te teken teen die vrylating van Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt. EWN berig dat regter Peet Johnson bevind het dat die kommissaris van korrektiewe dienste nie die regsgesag gehad het om die aansoek te bring nie aangesien hy nie ʼn party was in die oorspronklike saak nie. Hy het ook bevind dat die kommissaris nie die gesag gehad het om in te meng met die paroolraad se besluite nie en dat die paroolraad se besluit nie teengestaan is in die suksesvolle aansoek nie. Die departement se regsverteenwoordigers het aangevoer dat die oorledene se familie die geleentheid gegee moes word om voorleggings te maak aan die paroolraad. Johnson het daarop gewys dat die oorledene haweloos was en dat sy familie nooit opgespoor is nie.

Van Schalkwyk en Tiedt moes Donderdag 15 Desember vrygelaat word maar die departement het geweier. Die Pretoriase hooggeregshof het op 16 Desember gelas dat die twee mans onmiddellik vrygelaat word. Die departement het egter weer geweier. Van Schalkwyk en Tiedt is op 19 Desember onder streng voorwaardes vrygelaat. Van Schalkwyk, Tiedt, Frikkie du Preez en Christoff Bekker het in 2008 tronkstraf van 12 jaar begin uitdien na hulle vroeër skuldig bevind is aan die moord op ʼn hawelose man. Die voorval het in 2001 plaasgevind toe die vier mans nog op skool was. Du Preez en Bekker word in Pretoria Sentraal gevangenis aangehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.