Hofaansoek teen Tshwane-metro ingedien oor elektrisiteitsmeters-kontrak

Argieffoto

Argieffoto

Die sakeregtewaghond AfriSake het Donderdag ’n dringende hofaansoek by die Noord-Gautengse Hooggeregshof ingedien met die oog daarop om ’n ooreenkoms wat in Mei vanjaar tussen die Tshwane-metro en PEU Capital Partners (PEU) gesluit is te stuit. Die kontrak behels die installasie van ongeveer 800 000 elektrisiteitsmeters.

Volgens AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, het AfriSake sedert hy van die transaksie kennis geneem het, ’n deeglike ondersoek ingestel na die wettigheid van die ooreenkoms. Hierdie transaksie het meer as tien wette en regulasies oortree, onder meer die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, die Verbruikersbeskermingswet, die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid, asook die Metro se eie beleid oor voorsieningskettingbestuur.

PEU, aan wie die tender wederregtelik toegestaan is, het geen ervaring van die installering en bestuur van dorpe en stede se elektrisiteitsinfrastruktuur nie. Die ooreenkoms strek oor 13 jaar en sal inwoners van die metrogebied meer as R20 miljard rand uit die sak jaag. “Elektrisiteitverbruikers sal vir die slimmeterinfrastruktuur betaal, maar PEU sal die eienaar van die infrastruktuur bly”, het Jansen van Rensburg gesê.

Hierdie omstrede ooreenkoms is waarskynlik die mees blatante voorbeeld van ’n grootskaalse korrupte munisipale transaksie, tot dusver. Die skaal hiervan in randwaarde is vergelykbaar met die koste van die e-tolstelsel. Die groot verskil is dat ongeveer 800 000 huishoudings ’n soortgelyke finansiële las moet dra.

Goeie bestuur van Suid-Afrika se dorpe en stede is gebiedend noodsaaklik vir die ontwikkeling van die land se sakesektor. Stede moet veral tegnologies vernuwe sodat dienste volhoubaar gelewer kan word. Dit is die enigste manier waarop hulle mededingend kan bly ten opsigte van finansiële en mensekapitaal. Wat die Tshwane Metro hier gedoen het, is presies die teenoorgestelde as wat hulle taak en opdrag behels – hulle het ʼn enorme uitgawe aangegaan wat hulle op verbruikers gaan afskuif, wat sakevertroue gaan knou en die ekonomiese groei en volhoubaarheid van die stad gaan skade doen.

“Ons het ’n baie sterk vermoede dat ’n soortgelyke kontrak vir minder as die helfte van die koste geimplementeer sou kon word,” het Jansen van Rensburg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarie van Niekerk ·

So met ander woorde as hierdie hofsaak slaag, dan kan ek as ek die dag besluit om uit my huis in Ekurhuleni te trek, my voorafbetaalde elektrisiteitsmeter uithaal en saam met my neem want toe ek my meter vier jaar gelede laat insit het, moes ek ook betaal vir die meter. So dan is die meter dan mos my eiendom!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.