Hofbevel dwing munisipaliteit om dienste te lewer

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof ’n  dringende bevel teen die Vhembe-distriksmunisipaliteit verkry om hulle te dwing om water aan die inwoners van Louis Trichardt (Makhado) te voorsien.

Die reg op water is ʼn basiese mensereg. Ingevolge die Wet op Waterdienste is elke persoon op minstens 25 liter water per dag geregtig en mag ʼn persoon nie langer as 7 dae sonder water wees nie. Die Louis Trichardt-gemeenskap ervaar al vir maande aaneen ʼn watertekort en sommige gebiede is al meer as twee maande sonder water.

AfriForum verwelkom die bevel, aangesien dit noodsaaklike verligting bring vir die Louis Trichardt-gemeenskap wat vir etlike maande onder geweldige druk verkeer het, omdat die munisipaliteit nie sy grondwetlike pligte teenoor die gemeenskap nagekom het nie.

Gesondheidsentrums, veral sentrums vir bejaardes het swaargekry, aangesien hulle nie behoorlik kon funksioneer sonder lopende water nie.

“Hierdie bevel dwing die Vhembe-munisipaliteit om hulle werk te doen. AfriForum sal die nakoming van die tydraamwerk wat in die bevel uiteengesit is dophou en aanhou om druk op die munisipaliteit uit te oefen,” het Werner Human van Hurter Spies Ing., AfriForum se regsverteenwoordigers, gesê.

“Die bevel skep ‘n nasionale presedent vir watervoorsiening en dienslewering oor die algemeen, waar die munisipaliteit deur die hofbevel verbind word om verslag te gee oor die vordering vanaf die bou van infrastruktuur tot lopende water aan die Louis Trichardt-gemeenskap beskikbaar is,” het Human bygevoeg.

Ingevolge die bevel sal lopende water periodiek in Desember 2012 beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.