Hond skenk bloed om kat se lewe te red

Foto: Alamy

ʼn Bloedoortapping van ʼn hond het ʼn kat se lewe gered nadat die kat rottegif ingekry het, het die New Zealand Herald Woensdag berig.

Kim Edwards, die eienaar van die kat, was Vrydag histeries toe haar gemmerkat, Rory, verlam geraak het nadat hy per ongeluk rottegif ingekry het. Sy het met die kat na haar plaaslike veearts in Tauranga gehaas.

Kate Heller, die veearts, het gesê die kat se toestand het vinnig verswak en hy het dringend ʼn bloedoortapping benodig om te oorleef, maar daar was nie genoeg tyd om ʼn monster na die laboratorium te stuur om die kat se bloedgroep te bepaal nie. Sy het besluit om hondebloed te gebruik om die kat se lewe te red, met die wete dat die kat dadelik sou sterf as dit die verkeerde bloedgroep is.

Edwards het met haar vriendin, Michelle Whitmore, in verbinding getree. Whitmore het aangebied dat haar swart labrador, Macy, gebruik kan word vir die bloedoortapping.

Heller het gesê sy het nog nooit vantevore só operasie uitgevoer nie en dit is baie selde dat so ʼn prosedure gedoen word. “Mense gaan dink dit klink vreemd, en dit is, maar dit was ʼn sukses en ʼn kat se lewe is gered,” het Heller aan die Herald gesê.

“Die veearts het die ekstra myl geloop. Dit is ongelooflik dat dit gewerk het,” het Edwards gesê. “Dit gaan goed met Rory, hy het nog nie begin blaf nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trippie ·

Ag jinne, dis nou ‘n lekker goedvoel-berig !

Wie het ooit gese ‘n kat het nie 9 lewens nie.

PRRRRR en vir die hond se bloed, WOEF !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.