Honda herroep duisende Jazz-modelle

Argieffoto

Honda gaan meer as 20 000 voertuie van sy Jazz-reeks, wat tussen 2002 en 2008 vervaardig is, herroep, het Beeld Woensdag berig.

Die modelle gaan glo herroep word om die vensterbeheermeganisme by die bestuurdersitplek te herstel, omdat dit moontlik tot ʼn brand kan lei. Volgens die Japannese motorvervaardiger kan reënerige weersomstandighede veroorsaak dat water in die beheermeganisme inlek en dit onklaar maak, wat veroorsaak dat die bestuurder nie sy venster oop of toe kan maak nie.

Onder buitengewone omstandighede kan die stroombaanpaneel oorverhit, smelt en ʼn brand veroorsaak.

Honda wil daarom 20 035 motors herroep om die fabrieksfout te herstel.

’n Waterdigte buiterand is in 2010 in die voertuie installeer, maar Honda het ontdek dat ’n klein gaping tussen die beheermeganisme en die buiterand mettertyd kan ontstaan wat weer tot dié fout kan lei.

Die voormalige Laugh it Off-satirikus Justin Nurse se dogter, Vanilla, het op haar tweede verjaardag in 2009 weens rookinaseming gesterf toe haar ouers se Honda Jazz aan die brand geslaan het. Sy was binne-in die voertuig.

Honda het die fout ondersoek en in Januarie 2010 is alle motors in dié Jazz-reeks in Suid-Afrika as voorkomingsmaatreël herroep.

-SAPA

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.