Hondekos-fluitjieblaser weer aangestel

Ivan Myers, voormalige superintendent van die polisie, het ʼn vyf jaarlange hofstryd gewen om sy ontslag om te keer nadat hy ʼn beweerde hondekosskandaal aan die lig gebring het.

Die hoofste hof van appèl het Donderdag ten gunste van Myers beslis wat in 2007 ontslaan is nadat hy glo polisie dissiplineregulasies oortree het, berig die Cape Times. Myers, wat in daardie stadium hoof was van die Maitland honde-eenheid, het met die media gepraat oor die honde se beweerde wanvoeding nadat porsies van 700g tot 500g per dag verminder is.

Sommige mediaberigte het beweer dat die honde hul eie ontlasting begin eet het.

Myers is ontslaan omdat hy daaroor gepraat het, en is met R500 beboet.

Die dispuut is deur ʼn lang hersieningsproses en het eindelik in die arbeidshof opgeëindig waar daar in Myers se guns beslis is. Dié besluit is toe in Maartmaand deur die arbeidsappèlhof omgekeer.

Die hoogste hof van appèl het Donderdag die arbeidsappèlhof se besluit omgekeer en bevind dat die onredelikheid van Myers se ontslag voldoende was om in te gryp.

Myers het aan die koerant gesê dat hy dankbaar is die hofstryd is nou iets van die verlede. “Ek is bly dat geregtigheid geseëvier het, en ek sien uit om weer my regmatige plek in die Suid-Afrikaanse Polisiediens op te neem,” het Myers gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.