Honderde dakloos ná Kaap-brande

Foto van die brand wat vroeër die maand by ‘n informele nedersetting in Stellenbosch uitgebreek het. Foto: Facebook

Honderde mense is dakloos gelaat na ‘n aantal brande in Kaapstad uitgebreek het.

“Vier huise en sowat 61 plakkershuise is in vier verskillende brande op Goeie Vrydag vernietig,” het Wilfred Solomons-Johannes, woordvoerder vir die stad se rampbestuureenheid, gesê. “Meer as ‘n 100 mense is dakloos gelaat.

‘n Brand het omstreeks 18:56 in Elmareestraat in Kalkfontein uitgebreek en sowat 21 plakkershuise vernietig. “Brandbestryders kon die brand omstreeks 20:30 blus en het die gebied veilig verklaar.

Omstreeks 20:45 het ‘n brand by Lusaka informele nedersetting in Gugulethu uitgebreek. “Brandbestryders het binne 17 minute nadat hulle daar aangekom het, die brand geblus,” het Solomons-Johannes gesê. Vier plakkershuise is vernietig. “Die inwoners het voor die brandbestryders daar aangekom het, met emmers water gepoog om die brand te blus. Vermoedelik is die brand weens ‘n kortsluiting in die elektriese bedrading veroorsaak.”

Die derde brand het omstreeks 21:42 by die Fisantekraal informele nedersetting naby Durbanville uitgebreek. Elf plakkershuise is vernietig en 41 mense, insluitend 25 volwassenes en 16 kinders, is dakloos gelaat. “Vermoedelik is die brand weens ‘n paraffienstofie, wat omgeval het, veroorsaak.”

Sowat 60 mense, insluitend twee babas, is dakloos gelaat toe 25 plakkershuise en drie huise by die Masiphumelele informele nedersetting afgebrand het. Solomons-Johannes sê die brand het net voor middernag uitgebreek en is Saterdagoggend omstreeks 01:00 geblus. ‘n Vrou is vir rookinaseming behandel en ‘n man wat op ‘n dak gestaan het, het geval en sy been beseer. Die man is na ‘n hospitaal geneem vir verdere behandeling. “Vermoedelik is die brand ‘n gevolg van ‘n oop vlam wat omgeval en beddegoed aan die brand gesteek het.”

Solomons-Johannes doen ‘n beroep op die publiek om waaksaam te wees wanneer hulle met oop vlamme werk.

Twee mense is dood en 2 500 is dakloos gelaat nadat ‘n brand vroeër die maand by ‘n informele nedersetting in Stellenbosch uitgebreek het. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

H J Bester ·

In alle gevalle word die brande veroorsaak vanweë swak menslike optredes – of stofies en kerse wat nie bewaak word nie of onwettige kragtappery. En in alle gevalle kos dit Stad Kaapstad duisende rande om die brande te blus en om die dakloses van skuiling, komberse, voedsel, ens te voorsien.

Wanneer my huis brand, is dit my verlies en word ek van niks voorsien nie. Wanneer sal die plakkers verantwoordelikheid aanvaar en wanneer word daar opgetree teen die onwettige kragtappers ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.