Honderde pasiënte ontruim ná brand by hospitaal

Dihlabeng-hospitaal

Meer as 100 pasiënte moes Dinsdag uit ‘n hospitaal in Bethlehem in die Vrystaat ontruim word nadat ‘n brand in die hospitaal se kombuis uitgebreek het.

“Niemand is vir rookinaseming behandel nie en geen beserings is weens die brand aangemeld nie,” het Mondli Mvambi, woordvoerder van die departement van gesondheid in die Vrystaat, gesê. Die pasiënte op die vierde verdieping is na die hospitaal se ongevalle-eenheid geskuif nadat die brand omstreeks 05:30 by die Dihlabeng-hospitaal uitgebreek het.

Volgens Mvambi is van die kombuistoerusting beskadig, maar daar is geen ernstige strukturele skade nie. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie, en die departement wag op die plaaslike brandweer se verslag.

“Die pasiënte is Dinsdagmiddag na hul onderskeie sale teruggeskuif,” het Mvambi gesê. “’n Skoonmaakproses is tans aan die gang om seker te maak dat die kombuis so gou as moontlik weer bruikbaar sal wees.” Die kombuis by die nabygeleë Phekolong-hospitaal en ander kombuise by die Dihlabeng-hospitaal word tans gebruik om etes vir die pasiënte voor te berei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.