Honderde vas vir Sasolburg-protes

Altesaam 187 mense is sedert Sondag in hegtenis geneem nadat ʼn gewelddadige protes in die dorp uitgebreek het.

Volgens konst. Peter Kareli, ʼn woordvoerder van die Vrystaat-polisie, is die mense in hegtenis geneem weens publieke geweld.

Die betoging het Sondag omstreeks 09:30 begin na ‘n vergadering oor die beplande samesmelting van die Metsimaholo- en Ngwathe-munisipaliteit. Die inwoners is glo ongelukkig oor die owerheid se planne om Sasolburg onder die Ngwathe-munisipaliteit te laat val.

Twee polisiebeamptes is Maandagoggend in die Zamdela-informele nedersetting beseer nadat hul Njala-pantservoertuig in modder vasgesit het. Die polisie moes met ʼn waterkanon en rubber koeëls op hulle skiet om betogers uit mekaar te dryf.

Verskeie skole in die dorp moes ook gesluit word. Betogers het later Maandagmiddag ook twee swaarvoertuie aan die brand gesteek.

Volgens Kareli was daar geen voorvalle Maandagaand aangemeld nie. Die polisie is steeds op hoë gereedheid in die omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.