Honderde werkers brand dood

Foto: New York Times

ʼn Brand het Woensdag in ʼn fabriek uitgebreek en nagenoeg 300 lewens geëis.

Die brand het by ʼn tekstielfabriek in Karachi in Pakistan ontstaan, berig die New York Times.

Die slagoffers kon glo nie uit die brandende gebou kom nie omdat die deure gesluit en die vensters versper was.

“Vlamme en rook het vinnig deur die beknopte werksplek versprei. Die honderde arm werkers, wat onderklere en plastiese stoele gemaak het, het paniekerig geraak omdat hulle nie uit die gebou kon kom nie,” het ʼn beampte aan die koerant gesê. “Uit desperaatheid het van die werkers van die gebou se dak af, vier verdiepings ver gespring.” Talle van die slagoffers het weens rookinaseming gesterf. Baie van die oorlewendes het derdegraadse brandwonde opgedoen. Reddingspanne sukkel steeds om die liggame uit die puin te verwyder.

ʼn Oorlewende het gesê hy het twee ontploffings gehoor voor “alle hel” losgebars het.

Die brand word beskryf as Pakistan se ergste industriële ongeluk tot op hede.

Intussen soek owerhede na die bestuurders van die fabriek. Die eienaar se naam is op ‘n lys geplaas van mense wat nie die land mag verlaat nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.