Hondsdolheid teister KwaZulu-Natal

Driehonderd-en-vyftig diere wat glo hondsdolheid gehad het, is reeds die jaar in KwaZulu-Natal uitgesit, maar slegs 107 van hulle het uiteindelik positief vir hondsdolheid getoets.

“Die aantal diere dié jaar is hoër weens die uitbreek in die Bergville- en Loskop-gebied,” het Jeffrey Zikhali, woordvoerder vir die departement van landbou gesê. Hy sê die departement ondersoek die afsterwe van ʼn 8-jarige seuntjie wat glo hondsdolheid opgedoen het nadat hy in Bergville deur ʼn hond gebyt is. “Die hond het reeds hondsdolheid onder lede gehad en is vier dae voor die aanval teen die siekte ingeënt,” het hy gesê.

Zikhali sê hulle vermoed dat twee mense hondsdolheid het, maar dit moet eers deur ʼn laboratorium bevestig word. Beeld het Vrydag berig dat die top kanovaarder en boer van Underberg, Graeme Anderson (29), om sy lewe veg nadat hy glo sewe weke gelede deur ʼn hond, wat hondsdolheid het, gebyt is. Anderson se saak is deur sy dokter bevestig, maar dit was nie by Zikhali se statistiek ingesluit nie, aangesien hy nie van die saak bewus was nie.

Gemiddeld sterf twee mense per jaar aan hondsdolheid in KwaZulu-Natal. Die departement bied gratis inentings aan mense in afgeleë gebiede. “Sowat 300 000 honde word jaarliks ingeënt. Dit is altyd ʼn uitdaging om die hele provinsie in te ent,” het Zikhali gesê. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.