Hondslagoffer weer reg vir skool

Amanda is weer reg vir skool. Foto: Facebook

Die 8-jarige meisie wat meer as 1 000 steke moes kry nadat ʼn Duitse Herdershond-reun haar vroeër die maand verskeur het, het goed herstel en is in die week weer terug skool toe.

Amanda van Tonder, ʼn graad 2-leerling aan Laerskool De Kroon in Brits, Noordwes, is op 14 Augustus deur die hond aangeval. Amanda en haar sussie het saam met hul pa, Kerneels, by familie gekuier toe sy deur die hond verskeur is. Elzet, haar ma, was by die werk toe die voorval gebeur het. Amanda het sowat 15 bytplekke aan haar gesig en kop opgedoen. Sy is na die MediClinic in Brits gejaag waar sy gestabiliseer is. Sy is daarna na die Pretoria-Oos-hospitaal vir spesialis behandeling geneem en moes meer as 1 000 steke kry. Sy is ʼn dag later uit die hospitaal ontslaan.

Die ondersteuningsgroep Angel Children Updates het onlangs op Facebook geskryf dat Amanda se pleisters nou afgehaal is en dat hulle tevrede is. “Die dokter WEET wat hy doen, van die snye sien ons glad nie! Dankie LIEWE VADER dat U saam met die dr was toe hy aan Amanda gewerk het.” [sic]

Amanda is Dinsdag vir die eerste keer ná die voorval skool toe. Die groep skryf sy was baie opgewonde en kon nie wag om al haar maatjies en haar juffrou weer te sien nie.

Annamarie Botha, ʼn ondersteuner, het op die blad geskryf: “Toe ek die oggend die bebloede gesiggie sien het ek sommer begin huil. My hart was so seer vir die mensie en haar ouers. En hier sien ek vandag die gesiggie en ek huil weer, maar van dankbaarheid. God is so goed gewees vir haar. Sy gaan heeltemal genees. Dankie Liewe Jesus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.