Hoof van renostersindikaat borgtog geweier

Die vermeende baasbrein van ʼn Suidoos-Asiese smokkelsindikaat is borgtog geweier in die Kempton Park landdroshof omdat hy as ʼn vlugrisiko beskou word.

Chemlong Lemtongthai is in Julie vanjaar in ’n huis in Edenvale aan die Oos-Rand in hegtenis geneem nadat ʼn bestuurder van ʼn Thaise lugdiens, John Olivier, wat glo ook by die sindikaat betrokke was die owerhede in kennis gestel het van hulle bedrywighede. Olivier het aan die polisie gesê dat ʼn wildbewaarder, Marnus Steyl, glo renosters beskikbaar gestel het aan Lemtongthai vir geblikte jag. Lemtongthai word daarvan beskuldig dat hy renoster-jagpermitte onder valse voorwendsels bekom het. Lemtonghai het beweer die permitte is vir “trofeejag” van renosters. Die sindikaat het glo jong Thaise vroue, wat as ontkleedansers na die land gesmokkel is, gebruik om as trofeejagters te poseer. Die renosters se horings is dan die land uitgesmokkel waar dit vir nagenoeg R65 000/kg verkoop is op die Asiese swartmark. Lemtongthai is na ʼn jaar lange ondersoek deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en Valke in hegtenis geneem. Hy sal weer op 15 September in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.