AB de Villiers roep internasionale krieket vaarwel

AB de Villiers. Foto: ANA

AB de Villiers, die Suid-Afrikaanse krieketkolwer, het Woensdag aangekondig dat hy met onmiddellike effek uit alle vorme van internasionale krieket tree.

De Villiers tree uit as een van die beste spelers wat Suid-Afrika nóg verteenwoordig het met 114 toetse, 228 internasionale eendagwedstryde en 78 T20-wedstryde agter sy naam. Die 34-jarige speler het gesê dit is nou “die regte tyd” vir hom om uit te tree en amptelik ʼn einde te bring aan sy luisterryke loopbaan van 14 jaar.

“Ek het besluit om uit alle internasionale krieket te tree met onmiddellike effek. Dit is nou tyd vir ander om oor te neem. Ek het my beurt gehad en om eerlik te wees, ek is moeg,” het De Villiers Woensdag gesê.

“Dit was ʼn moeilike besluit. Ek het lang en hard hieroor gedink en ek wil graag uittree terwyl ek nog ordentlike krieket kan speel. Ná die fantastiese reeks oorwinnings in Indië en Australië voel dit nou soos die regte tyd om uit te tree.

“Dit sal nie reg wees as ek kies waar, wanneer en in watter formaat ek vir die Proteas wil speel nie. Vir my, in die groen en goud, moet dit alles of niks wees. Ek sal altyd dankbaar wees teenoor die afrigters en personeel van Krieket Suid-Afrika vir hul ondersteuning deur die jare. Die belangrikste dankie gaan aan my spanmaats dwarsdeur my loopbaan – ek sal nie die helfte van die speler gewees het wat ek vandag is sonder hul ondersteuning deur die jare nie.”

De Villiers het gesê sy besluit gaan nie oor meer geld verdien op ʼn ander plek nie, maar eerder omdat sy “stoom opgeraak het” en hy voel dit is tyd om aan te beweeg. “Alles kom tot ʼn einde. Aan die krieketaanhangers reg oor Suid-Afrika en die wêreld, dankie vir jul goedheid en vrygewigheid en vandag, vir julle begrip.”

Volgens De Villiers is hy geensins van plan om oorsee te gaan krieket speel nie en hoop hy om beskikbaar te bly vir die Titans in plaaslike reekse. “Ek sal ook voortgaan om die grootste ondersteuner van Faf du Plessis en die Proteas te wees.”

De Villiers spog met ʼn magdom rekords en hoogtepunte. Hy is die rekordhouer vir die vinnigste eendag-vyftigtal (16 balle), vinnigste eendag-honderdtal (31 balle) en vinnigste eendag 150-tal (64 balle). Hy het ook Suid-Afrika se tweede hoogste toetstelling (278*) aangeteken en die beste individuele ranglyspunt vir ʼn Suid-Afrikaanse toetskolwer op die ranglys van die Internasionale Krietketraad (935). Hy is in 2014 en 2015 as die Suid-Afrikaanse krieketspeler van die jaar aangewys.

Hy tree uit met ʼn toetskolfgemiddeld van 50,66 en as die vierde voorste lopiemaker vir Suid-Afrika met 8 765 toetslopies (22 honderdtalle).

Chris Nenzani, president van Krieket Suid-Afrika, het De Villiers as een van die grootste spelers in Suid-Afrikaanse krieket bestempel en gesê hy was ʼn inspirasie vir sy spanmaats op internasionale sowel as plaaslike krieketvelde. “Dit is vanselfsprekend dat hy baie gemis sal word waar ook al internasionale krieket gespeel word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Henry ·

Sjoe AB!
Wat ‘n yster!
Wat ‘n talentvolle sportman!
Dankie vir die groot plesier wat jy veral vir ons Noord Transvalers vanaf jou skool dae tot datum, op die krieket- en rugby-veld verskaf het.
Geniet die nuwe lewe saam met jou familie en kjeenirs!!!

BadNews ·

Wat n briljante sportman en aangename persoon.
Well done AB, jy het ons ure se kykgenot verskaf en trotse Suid-Afrikaners gemaak.
Ai, ek gaan daai blitsige grenshoue mis!
Voorspoed vir jou en jou familie ou grote. Mooi loop!

Mrs H ·

Aai ou AB ons gaan jou voorwaar baie mis jong. Sterkte en geseende voorspoed met jou toekoms. Daar gaan ONS kwota nou…lol

Joe ·

Regte tyd dink ek, dankie vir al die entertainment Abes!! Alhoewel ek dink hier gaan nog n storie uitkom.

Leon ·

Met daai vangskoot in die laaste wedstryd, sluit hy werklik sy loopbaan af op ‘n hoë noot!

Leo ·

Hy sluit nie daai deel van sy loopbaan af nie. Net internationaal.

Gustav ·

Baie dankie AB, dit was ‘n groot voorreg gewees om jou te sien speel, moeilik om te dink dat daar weer ‘n speler gaan wees naasteby soos jy. Die regte besluit van jou soos jy dit gestel het en geniet die meer tyd saam met die gesin en vriende

Michelle ·

Vaarwel – what a legend!!!!!!!!!!!! Dankie vir al die puik krieket, ons is steeds so trots op jou naletenskap!

pbotha ·

Dankie vir al die vreugde deur die jare AB! Gaan geniet die rus. Gaan jou flitsende kolf mis in die groen en goud

rollie ·

Hy gaan steeds IPL speel en sal waarskynlik ook aan ander T20 kompetisies oorsee deelneem. Maklike geld maar hy verdien dit.

kollie ·

Jis ou rollie, nooit geweet dat jy AB se bestuurder/agent is nie.
Wat kan jy ns nog vertel?

JSO ·

Hy het dit baie duidelik gemaak dat hy GEEN internasionale wedstryde gaan speel nie en het spesifiek IPL genoem. Hy gaan net vir die TITANS speel en moontlik vlg jaar afrigting (coaching) opneem.

Leser ·

AB, jy het ons trots gemaak. Alle voorspoed vorentoe, maar weet jy gaan gemis word op die veld. My oudste seun, nou 13, is versot op krieket en jy was ‘n groot inspirasie en rolmodel vir hom. Jy laat ‘n groot leemte in die Protea span.

Joe ·

@JSO , IPL is nie internationale krieket nie, internationale krieket is waar jy jou land verteenwoordig.

Spike ·

Wat ñ totale mens met integriteit. Dankie AB. Die werêld gaan jou mis. Trots op jou en geniet die nuwe fase van lewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.