Bulls eis top-posisie in Super15 op

Die Bulls het ’n naelbytsege oor die Sharks behaal toe hulle die Durbaniete op Loftus Versfeld met 20-19 getroef het.

Hulle is nou boaan die algehele Super15-rangleer en ’n wen teen die Stormers volgende week sal hulle steeds eerste laat eindig. Dis ’n benydenswaardige posisie want indien die Bulls hul halfeindstryd wen, sal hulle verseker wees van ’n eindstryd op Loftus Versfeld in Pretoria – nes in 2009 toe hulle die Cheifs daar afgeransel het om as die Super15-kampioene gekroon te word.

Die Pretorianers kan hulself egter baie gelukkig ag om hierdie deur te getrek het. Die Sharks het ’n formidabele skouspel gelewer en die wedstryd vir meeste van die wedstryd gedomineer, met die Bulls wat slegs die laaste tien minute gebruik het om die wen te verseker.

Selfs die manier wat die punte aangeteken is, het gedui op hoe gelyk hierdie spanne se vertonings en vermoëns was in hierdie wedstryd. Eerstens het beide spanne twee drieë gedruk. Vir die Bulls was dit Bjorn Basson, wat ’n kruisskop van Morne Steyn gevang en oorgeduik het, en Jano Vermaak, danksy ’n slim rolskop deur die Bulls-heelagter Jurgen Visser, wat gedruk het. Vir die Piesangboere was dit Patrick Lambie en Odwa Ndungane.

Die enigste verskil was die punte wat via skoppe aangeteken is. Steyn se twee verdoelskoppe en twee strafskoppe het saam 10 punte vir sy span op die telbord geplaas. Lambie se drie strafskoppe was egter slegs nege punte werd.

Die Sharks se Riaan Viljoen kon die Loftus-fanatici se harte gebreek het met ‘n strafdoel teen die einde van die wedstryd, maar dit was nie suksesvol nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.