Dubbele tragedie ná oud-Puk skielik oorsee sterf

Colin Wheeler (Foto: Facebook)

Colin Wheeler (Foto: Facebook)

ʼn Potchefstroomse gesin is in rou gedompel nadat hul middelkind Dinsdag in Hanoi, Viëtnam, oorlede is skaars ʼn maand nadat hy tydelik na dié land verhuis het om skool te hou.

André Wheeler het Vrydag aan Maroela Media vertel die gesin is “flenters” nadat sy broer, Colin (24), Dinsdag weens orgaanversaking in ʼn hospitaal in Hanoi oorlede is.

Colin, ʼn oud-Pukstudent wat verlede jaar ʼn B.Com-graad in bemarking en internasionale handel aan die Noordwes-Universiteit verwerf het, was vroeg Augustus vanjaar glo baie opgewonde oor dié nuwe reis wat voorlê, maar die gesin worstel nou met onbeantwoorde vrae skaars ʼn maand nadat hy vertrek het.

André, Colin se ouer broer, vertel Colin het die gesin gereeld gebel en minstens ʼn uur met hulle gesels. Toe hy op 6 Oktober afgelui het, sou hy egter nooit kon droom dat dié oproep die laaste keer sou wees wat hy oudergewoonte oor ditjies en datjies met Colin gepraat het nie.

Daarna wás daar ander oproepe – maar dit was nooit dieselfde nie, want dié oproepe is oorskadu deur ʼn vrees vir sy jonger boetie se lewe.

“My ma, Erika, het my verlede Maandag (op 10 Oktober) gebel en gesê daar is gróót fout. Sy lewer en sy niere het begin probleme gee. Hy het baie agteruit gegaan. Ons was baie bekommerd, en sy en my pa, André sr., is kort daarna Hanoi toe om by hom te wees,” het André gesê.

Hoewel dit Sondag begin lyk het asof hy beter word en begin aansterk, het sy toestand later die aand drasties verswak.

Dinsdag is die gesin se grootste vrees bewaarheid. “Ek was by die kerk en ons het ʼn biduur vir Colin gehou. Terwyl ons gebid het, het my pa gebel, maar ek het nie geantwoord nie. Toe ons klaar gebid het, het hy weer gebel. My ouers het gesê Colin se toestand het baie versleg en hy gaan dit nie maak nie.

Colin Wheeler (Foto: Facebook)

Colin Wheeler (Foto: Facebook)

“Ons gesin, insluitend my jonger suster, Erika, het op ons selfone saam gebid en gesmeek om sy lewe en terwyl ons besig was om te bid en huil, het my ma gesê hy is oorlede. Ons is stukkend. Mens kan die seer nie vir iemand anders verduidelik nie.”

Colin het geen mediese geskiedenis van siekte nie, en dokters vermoed hy moes ʼn virus opgedoen het.

André sê die gesin is veral hartseer omdat hulle hom nie ter ruste kan lê nie.

Die Hanoise-hospitaal het aanvanklik gesê hospitaalkoste van $34 500 (bykans R485 000) moet eers vereffen word voordat sy liggaam na Suid-Afrika gestuur kan word.

“Ons was aanvanklik onder die indruk ons moet net $25 000 betaal, maar ons het gister ʼn brief gekry wat sê die totale hospitaalonkostes beloop $34 500. Ons sit met ons hande in ons hare, ons het nie soveel geld nie en weet nie waar ons dit sal kry nie,” het hy gesê.

Intussen het André sr. sy paspoort ingehandig sodat hulle Colin se liggaam terug kan stuur Suid-Afrika toe, maar verseker weet dat die gesin al die skuld sal delg.

Colin het ook nie reisversekering gehad nie aangesien hy nie ʼn retoerkaartjie gekoop het nie. André meen hy sou enkele dae voor sy afsterwe ʼn kontrak, met die skool waar hy gewerk het, geteken het, en dié sou vir hom ʼn medies gegee het.

Hoewel Erika volgende week van Hanoi terugkeer, moet die gesin die totale rekening vereffen voordat Andre sr. die land kan verlaat. “Hulle het gesê as hy dit nie betaal nie, gaan hulle nie sy paspoort aan hom terugbesorg nie. Hy sal in Hanoi moet bly totdat ons die hele bedrag kan betaal.”

Die gesin het intussen ʼn blad geskep waar mense betrokke kan raak deur geld te skenk sodat hulle Colin se liggaam in Suid-Afrika kan kry. “Mens sien altyd hierdie stories op die internet, maar jy besef nie hoe erg dit is totdat dit met iemand na aan jou gebeur nie. Nou sit ons in dieselfde posisie en al wat ons kan doen, is om op mense se goedhartigheid staat te maak.”

Vir meer inligting, besoek die Bring Colin Home-Facebook-blad of kontak André Wheeler op 072 665 4113.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Wilma ·

Dit is baie baie tragies in die eerste plek om ‘n kind sover te verloor.. Die ander tragedie is die lande wat die mense so uitbuit…. Innige simpatie aan die familie…

Marianne ·

My hart skeur vir die familie.
Alles gaan vir almal oor geld! Kan die S.A. Ambassador nie help nie?
Die gesin gaan deur hel.

Paul ·

Dis nie wat ambassadeurs of ambassades doen nie. Dis nie deel van hul missie nie.

GPC ·

Wat van Travel versekering? As dit in plek is (al die kere wat ek landuit was, was dit vereiste) gaan ombudsman toe indien versekering vasskop.

Rocky Bell ·

Dit staan duidedlik in die berig dat hy NIE reisversekering gehad het. eish!!

antoinette ·

Hy het nie reisversekering gehad nie. Dit is hartseer en my meegevoel aan die familie. Mens moet ook realisties wees jy kan nie na n ander land gaan sonder n goeie finansiele backup nie. jy moet veral vir onvoorsiene omstandighede finansieel voirsiening maak. Ek is nie onsimpatiek nie net bloot realisties.

Annatjie ·

Nee hul kry nie reisversekering nie aangesien hul nie retoer kaartjies boek nie. My seun gee Engels in Vietnam. Hul vlieg elke 3 mnd na Thailand of ander lande en so hernu hul visums.

M'Lady ·

Hierdie vreemde lande het almal siektes wat nie by ons voorkom nie. Bly eerder ver weg.

Nie reg nie ·

Kan nie dink hulle hou nou die pa ‘gevange’ daar nie. As hy bv alleen daar was en geen familie nie, hoe sou hulle dan die geld gekry het? Dink daar is iets fishy by hulle owerhede, hoe kan hulle jou paspoort hou as jou seun se hospitaalrekeninge nie betaal is nie. Hy is nie meer ‘n afhanklike nie. Kontak die ambassade, dit kan mos nie reg wees nie, wat doen hulle as die ouers nie die geld het nie, hou hulle die pa vir ewig daar sonder ‘n paspoort ?

Beesblaas ·

Ek stem, elke keer as ek gereis het was versekering verplig! Dit is baie jammer om te hoor van so tragedie.

Bruno Stef ·

Ek merk op vanoggend met n besoek aan die kruidenierswinkel dat n studente dametjie van PUK vermoor is by haar blyplek in Potchefstroom en haar kamermaat aangerand is.My simpatie aan die familie van beide die gesinne dit is tragies veral as jou kleinkind ook nog betrokke is by PUK.

Louise ·

Bruno, sy was nie ‘n student nie maar ‘n tolk (sy was voltyds indiens van NWU). Sy en haar lewensmaat het in Mooivalleipark gewoon. Jy skep die indruk dat hulle studente was en dit is nie. (Net ter regstelling.)

Alida ·

Reisversekering is ‘n moet en behoort op almal se prioriteitslys te wees. Genade wat gaan nou gebeur. Die maklikste uitweg sal wees om hom te veras en die as terug te bring SA toe. Dit is nie ideaal vir sy familie hier nie, maar wat is daar ander om te doen.

MamaMia ·

My hart gaan uit na die gesin. My seun het vandag in Hanoi aangekom.

Liewe heksie ·

Ag genade my hart is saam julle stukken ek glo daar sal n uitweg vir julle wees sterkte RIP seun

Aloma ·

Ai dit is baie hartseer, ek kan myself net indink hoe die familie moet voel, ek wonder wat het sy siekte veroorsaak. Hoop iemand kan die mense bystaan met hulp.

Nico ·

Het die staat nie betaal om die liggame van die 85 TB Joshua slagoffers uit Nigerië hierheen te repatrieer nie? Is dit nie dan dubbelstandaarde as hulle nie hier help nie?

Saartjie ·

Nou spreek jy ‘n waar woord. ‘n Presedent was geskep. Die regering moet maar tafel toe kom.

Alida ·

Die enigste tafel wat die regering na toe kom is die etenstafel.

anda hoffman ·

Andre en Erika sterkte met wat julle gebeur het. Dit is baie sleg. Met die liefde en genade van God sal dit beter word . Hoop alles sal regkom en jy sal saam mey jou kind terug kom

elize naude ·

dit gaan nie net oor geld nie… mense wat in vreemde lande reis of vir n tydperk daar gaan werk en geen versekering afsluit nie is onverantwoordelik…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.