Faf du Plessis moontlik gestraf vir bal-peutery

Faf du Plessis

Faf du Plessis

Faf du Plessis, die Suid-Afrikaanse krieketspeler, kan beboet word nadat hy glo tydens die tweede Toets teen Pakistan in Dubai met die krieketbal gepeuter het, het ‘n beampte Saterdag bevestig.

Die Suid-Afrikaanse span is met vyf lopies beboet en die skeidsregters het daarop aangedring dat die bal op die derde dag van die Toets vervang moet word. Skeidsregters het glo gesien hoe Du Plessis die bal naby aan sy broek se ritssluiter vryf.

Lerato Malekutu, die span se woordvoerder, het bevestig skeidsregter David Boon het Du Plessis gevra om voor ‘n tugverhoor te verskyn om die bewering van balpeutery te verduidelik. “Die verhoor het Vrydagaand plaasgevind en ons sal Saterdag die uitslag hoor,” het Malekutu gesê.

Du Plessis, Suid-Afrika se Twenty20-kaptein, staar ‘n reeks moontlike boetes in die gesig, insluitend dat hy sy wedstrydfooie kan verbeur en geskors kan word van toekomstige wedstryde. Hy kan moontlik een Toets, twee een-dag-internasionale wedstryde of twee Twenty20-wedstryde mis.

AB de Villiers, Suid-Afrika se onderkaptein, het Vrydag ontken dat daar met die bal gepeuter is. “Ons is nie die span wat die bal krap nie,” het De Villiers gesê. “Ons maak ons nie aan kullery skuldig nie. Ek ken Faffie baie goed, hy is die laaste mens wat so iets sal probeer,” het De Villiers gesê.

De Villiers sê Du Plessis was daarvoor verantwoordelik om seker te maak die bal word gepoets. “Dit is nie ‘n maklike taak nie, maar ek dink hy het hom baie goed van sy taak gekwyt,” het hy gesê.

Pakistan is die enigste span wat vantevore beboet is nadat hulle met die bal gepeuter het. Hulle is in 2006 met vyf lopies gepenaliseer in die Oval-toets teen Engeland. Inzamam-ul-Haq, oud-kaptein van Pakistan, het destyds ontstoke weggestap en Darrell Hair, skeidsregter van Australië, moes die Toets verbeurd verklaar. Dit is tot dusver die enigste voorval in die geskiedenis van Toets-krieket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

Teen die agtergrond van al die jongste negatiewe nuusdekking wat krieket ontvang het, blyk dit dat Krieket SA ‘n groot deel van sy glans verloor het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.