Foto’s: Skattige prins Louis gedoop

Meghan Markle en prins Harry tydens prins Louis se doopverrigtinge. (Foto: Dominick Lipinski/AP)

Meghan en prins Harry tydens prins Louis se doopverrigtinge. (Foto: Dominick Lipinski/AP)

Prins Louis, die jongste seun van prins William en Catherine, hertog en hertogin van Cambridge, is Maandag in die koninklike kapel in die St. James-paleis in Westminster in Engeland gedoop.

Louis Arthur Charles, wat prins Louis van Cambridge heet, is op 23 April 2018 gebore en het by geboorte 3,9 kg geweeg.

Luidens ʼn verklaring wat Maandag deur die Kensington-paleis uitgereik is, het Charles, prins van Wallis, en Camilla, hertogin van Cornwall, saam met prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, die doop bygewoon.

Kate se ouers, Michael en Carole Middleton, haar suster, Pippa, en haar man, James Matthews, asook haar broer, James Middleton, was ook by dié geleentheid teenwoordig.

Prins Louis se peetouers, Nicholas van Cutsem, Guy Pelly, Harry Aubrey-Fletcher, Laura Meade, Robert Carter en Lucy Middleton, is ook na die doop genooi.

CNN berig dat Kensington-paleis vooraf bevestig het dat koningin Elizabeth (92) en haar man, prins Phillip (97), nie die doop van hul sesde agterkleinkind sal bywoon nie. Volgens berigte is dit nie om gesondheidsredes nie en het die koningin reeds geruime tyd gelede dié besluit saam met prins William en die hertogin van Cambridge geneem.

Prins Louis het ʼn handgemaakte replika van die koninklike dooprok, wat gemaak is deur Angela Kelly, gedra. Kelly is koningin Elizabeth se amptelike rokmaker. Die replika is in 2008 deur koningin Elizabeth laat maak om die oorspronklike rok te preserveer.

Die oorspronklike dooprok is in 1841 gemaak van Honiton-kant en wit satyn vir koningin Victoria se oudste dogter, ook Victoria, se doop. Koningin Elizabeth, haar kinders en haar kleinkinders is almal in dié rok gedoop. Prins Edward en sy vrou, Sophie, se seun James, is die eerste koninklike wat in die replika-rok gedoop is in 2008.

Die lelie-doopvont met water van die Jordaan-rivier is tydens die doop gebruik. Die Lelie-doopvont is ʼn silwer vont wat in 1840 in opdrag van koningin Victoria en prins Albert ná die geboorte van hul eerste kind, Victoria, gemaak is. Dit is die eerste keer in 1841 by Victoria se doop gebruik en word sedertdien gebruik vir die doop van koninklikes.

Na afloop van die diens sal die hertog en hertogin van Cambridge ʼn private tee by Clarence House aanbied. Die gaste sal getrakteer word met die doopkoek wat ʼn laag van die egpaar se troukoek is.

Die koek is deur Fiona Cairns ontwerp vir prins William en Kate se troue op 29 April 2011 en is gemaak van 17 individuele vrugtekoeke en het uit agt lae bestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cynthia TREDOUX ·

Wat n pragtige vrou is Kate nie? En die koninklikes…het my nog altyd gefassineer! Elegant soos altyd…met haar pragtige kinders…DOET SO VOORT KATE!

Vir my ook ·

Hulle is vir my ook. Kate is sowaar n ware opvolger vir Diana & William ondersteun haar, sy kry baie meer liefde as wat sy Ma gekry het, wat ‘n goeie werk Diana, ondanks haar omstandighede en hartseer het sy haar kinders ware waardes geleer.

Gooi my maar met klippe ·

Ek dink Kate en Meghan is albei gorgeous . net jammer hulle word so outyds aangetrek deur die ‘koninklike etiek’ dat dit hulle mooi persoonlikhede heeltemal wegvat. Die haartjies word so outyds gedoen en die rokkies almal dieselfde . So jammer dit is pragtige dames met goeie smaak .. nou moet hulle so outyds aantrek ..

CK ·

Ek stem volkome saam met jou. Meer modieus aantrek, maar steeds stylvol.

Foxi ·

Nee, ek stem nie saam nie. Oudtyds of te nie, hulle is egter 100% stylvol. Dames het jare gelede ook so aangetrek. Maar deesdae wil alle vroue net broeke dra. Wys vir my n dame wat n rok aantrek met mooi skoene vandag? Nie eens in die kerk dra dames meer n rok of n romp nie! Jy kry net ordentlike rokke of rompe te kry by baie, baie duur winkels. Dan sit die goed ook nog so styf bo op dit. Ek verkies die ou dae, ons dames het gelyk soos dames……

Ai tog! ·

Leë vat hou op drup dan dink ons jy is vol!
Wat weet julle van die koninklike etiek??

Jakkalsdraai ·

Die europese koninklikes hou nog altyd ‘n bekoring vir my in. Met die klem op europeus, tog net nie die Afrika koninklikes. Dankie tog dat eersgenoemde nog steeds rokke aantrek en nie die alewige broeke wat meeste vroue vandag aantrek. Dit is so onvroulik as kan kom. ‘n vrou in ‘n mooi rok/snyers pakkie vir my – daar is niks mooier.

Alida ·

Pragtige gesin en die fotos is baie mooi. Mens raak skoon verlief op klein Charlotte se skoentjies te fraai !!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.