Michael Schumacher se toestand versleg

Michael Schumacher

Michael Schumacher

Michael Schumacher, die sewemalige Formule 1-renjaer se toestand het versleg ná ʼn ski-ongeluk Sondagoggend in die Franse Alpe.

“Hy is in ʼn kritieke toestand,” het die hospitaal in Frankryk, waar hy behandeling ontvang, gesê. Die 44-jarige Duitser is glo tans in ʼn koma en het ʼn breinoperasie ondergaan.

“Schumacher het ʼn valhelm gedra toe hy geval en sy kop teen ʼn klip gestamp het,” het Sabine Kehm, sy bestuurder, gesê.

Berigte het vroeër aangedui sy toestand is nie lewensgevaarlik nie en dat hy glo van die ongeluk af weggestap het. Die ongeluk het Sondagoggend by die ski-oord Meribel plaasgevind. Christophe Gernignon-Lecomte, die direkteur van die oord, het gesê Schumacher is met ʼn helikopter na die hospitaal in Moutiers geneem vanwaar hy na Grenoble, in die suide van Frankryk geneem is.

Sy vrou Corinna en twee kinders is saam met hom.

“Hy is Sondag om 12:40 by die Universiteitshospitaal in Grenoble opgeneem,” het die hospitaal in ʼn verklaring gesê. “Hy het ʼn erge kopbesering opgedoen en hy was met sy aankoms in ʼn koma. Hy moes dadelik ʼn operasie ondergaan en is steeds in ʼn kritieke toestand.”

ʼn Beampte van die hospitaal wou nie verdere besonderhede verskaf nie en het gesê hulle sal Maandag meer inligting bekend maak.

Schumacher vier sy 45ste verjaarsdag op 3 Januarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.