Nuuskommentaar: Aarduur – As die aarde se horlosie middernag slaan

aardeSaterdag kry Suid-Afrikaners weer die geleentheid om simbolies saam met die wêreld “Aarduur” te gedenk – wanneer almal saam vir ‘n uur lank alle ligte kan afskakel. Aarduur is ‘n omgewingsbewuste projek van die Wêreldnatuurlewefonds (WWF).

Aarduur vestig die aandag daarop dat die mensdom besig is om die aarde se hulpbronne vinniger op te gebruik as wat die natuur dit kan vervang.

Volgens die internasionale organiseerders sal ‘n rekordgetal van 157 lande en gebiede vanjaar aan die geleentheid deelneem. Selfs die bemanning van die Internasionale Ruimtestasie sal aan die projek deelneem waarvan die vlagskipprojek om 20:30 (Singapoer se tyd) in dié stadstaat plaasvind. Auckland in Nieu-Seeland sal die eerste stad wees waar die ligte gedoof gaan word waarna die ligte saam met die aarde se draai ook in ander lande sal volg.

Oral oor die wêreld sal die ligte ook van bekende bakens soos die Eiffeltoring en van die wêreld se hoogste geboue afgeskakel word. In Suid-Afrika sal die ligte van Tafelberg as deel van die projek afgeskakel word.

Die projek sny oor die grense van die “nuwe Koue Oorlog” met onder meer Rusland en die VSA wat ook gaan deelneem.

Vanjaar tree die superheld, Spiderman, vir die eerste keer as ambassadeur vir Aarduur op. Tegnologiese ontwikkeling bly ook nie agterweë nie met Twitter en Facebook wat ook ingespan word.

Die projek is so dat elkeen ‘n bydrae kan lewer (volg die skakels hierbo).

Niemand behoort meer te twyfel oor die noodsaak dat die mensdom verantwoordelikheid neem vir die planeet waarop hy woon, en vir die afsienbare toekoms in elk geval, die enigste planeet van permanente bewoning sal wees nie. Dit is ook ‘n Bybelse opdrag dat die mens oor die aarde sal heers – en beslis nie moet vernietig deur oorbevolking, besoedeling en die vernietiging van sy groen longe nie.

Elke jaar raak die aarde gouer “bankrot” – daardie simboliese tyd wanneer die aarde reeds die hoeveelheid natuurlike hulpbronne opgebruik het wat die ganse aarde in ‘n jaar kan vervang, en verder “in die rooi” op toekomstige geslagte se erfenis begin teer.

Wetenskaplikes het nou min of meer konsensus oor die mensdom se rol in klimaatsverandering, en hoe dit tot meer natuurrampe soos uiterste weerstoestande bydra. Pas het wetenskaplikes voorspel dat kospryse binnekort weens klimaatsverandering skerp gaan styg.

Met al die tegnologiese deurbrake om planete buite die sonnestelsel te vind, kon nog geen planeet gevind word wat beslis lewe soos ons dit op aarde ken sal kan onderhou nie. Dit toon hoe ‘n fyn balans bestaan tussen faktore soos die afstand van die son, die grootte en swaartekrag van die planeet, die aanwesigheid van ‘n goeie magneetveld en ‘n osoonlaag.

En selfs al sou sulke planete ontdek word, bestaan die tegnologie om ooit tot daar te reis doodeenvoudig nog nie.

Tog, hoewel die aarde aan al hierdie “Goue Lokkie”-vereistes voldoen, sterf daar deurlopend spesies uit, waarvan heelwat weens die mens se toedoen.

Al kan elkeen nie ‘n Spiderman wees nie, kan hy of sy ook ‘n superheld wees en ‘n bydrae lewer tot die nalatenskap van ons bewoonbare planeet vir die toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.