Nuuskommentaar: Wat vertel die tussenverkiesings?

IEC-280Hoewel daar gister verskeie tussenverkiesings landswyd plaasgevind het, was bykans alle oë op Potchefstroom gerig waar drie tussenverkiesings plaasgevind het. Nog ses geskeduleerde tussenverkiesings moes weens die tussenkoms van die verkiesingshof uitgestel word.

Die groot vraag is toe beantwoord – die ANC het twee van die drie wyke – een teen die DA en een teen ‘n onafhanklike kandidaat – gewen.

In die wyk waar die DA die onderspit gedelf het, sal kop gekrap word oor hoe dit gebeur dat by die stempunt waar die DA byna 80% van die stemme getrek het, ‘n grootliks wit gebied, die totale stempersentasie minder as 24% was. Die twee stempunte waar die ANC se steun sterker was, het  stempersentasies van net minder as 40% en 60% onderskeidelik opgelewer.

Die onafhanklike kandidaat wat in ‘n ander betwiste wyk die pyp gerook het, is ‘n gevestigde gemeenskapsleier wat al meer as ‘n dekade as ANC-raadslid gedien het. Sy ondersteuners het na dit rugbaar geword het dat hul man die paal gehaal het, dit duidelik gemaak dat hulle hul mes vir pres. Jacob Zuma in het.

Wat die landswye uitslae betref, blyk dit dat die ANC, in wyke wat dié party verower het, steun van tussen 60% en meer as 80% geniet. In sy eie vestings lyk dit dus nog nie of daar veel krake in sy steun ontstaan het nie.

Daarteenoor lyk dit of die DA in sy wyke op ongeveer dieselfde orde steun kan staatmaak, hoewel die voorbeelde te min is om werklik tendense te bepaal. Die DA het een wyk (in Heidelberg, Gauteng) onbestrede verower, en in nog ‘n wyk, in Mosselbaai, meer as 60% van die stemme getrek. In Mosselbaai het ‘n onafhanklike kandidaat goed gevaar en die ANC het sleg op sy baadjie gekry.

In ‘n oorwegende swart wyk in Drakenstein, wat deur die ANC verower is, het ‘n onafhanklike goed gevaar, en het die DA weer baie sleg op sy baadjie gekry.

Internasionaal word tussenverkiesings as belangrike, maar tog nie baie akkurate aanduiders nie, beskou van waarheen partye onderweg is.

Wat die ANC betref, is die vertoning van die onafhanklikes ‘n sterk streekgebonde verskynsel, en sal die ANC waarskynlik meer oor die krake in eie geledere te wete kom wanneer Cosatu se spesiale kongres plaasvind om oor die lot van sy geskorste sekretaris-generaal Vavi te beslis. Dit bly nog te vroeg om die moontlike wegsypel van steun na Agang en Julius Malema se narreparade te bepaal, en selfs na Cope, omdat dié partye se ondersteuners hul gewig saam met die DA (waar dit nie self gestaan het nie) agter die onafhanklike kandidate ingewerp het.

Wat die DA betref, is die terugslag in die Potchefstroomse wyk te min om tendense te oordeel. Dit mag bloot wees dat blankes tradisioneel nie dieselfde waarde aan munisipale verkiesings heg nie, en vir die lae stempersentasie onder dié groep verantwoordelik kan wees. Maar dit kan ook wees dat daar, minstens lokaal, beduidende steun vir ander partye soos die Vryheidsfront Plus is, en dat dié kiesers in die konteks van waar die DA nou sy steunwerwing fokus, te vervreemd voel om selfs ‘n geleentheidstem vir die DA uit te bring. Uit gister se uitslae lyk dit nie of die DA beduidende impak op swart kiesers gemaak het nie, maar om dié voorbeelde algemeen te wil vertolk sou beteken dat die sigbare algemene swart steun vir die DA nie verklaar kan word nie.

Wat ander partye betref, het partye soos Azapo bedroewend gevaar, en die grootliks regionale UCDP is verneder. Dit lyk nie of die UCP veel langer buite ‘n staande koalisie kan staan nie, want aan hoe meer tussenverkiesings dit nou deelneem, hoe swakker word sy bedingsposisie binne toekomstige koalisies wat sy enigste politieke reddingsboei is.

Opsommend kan dit gestel word dat die opposisiepartye nog ‘n groot taak voor hulle het voor verseker kan wees dat die ANC volgende jaar geknou gaan word.

Op die oog af lyk dit nog of die ANC se grootste probleem is hoe dit die gevaar van ‘n moontlike interne skeuring die hoof gaan bied. Aan die ander kant is die uitslae nie baie bemoedigend vir diegene wat hoop om ‘n politieke vrypas uit ‘n moontlike ANC-skeuring te verkry nie.

Die DA sal ook moet waak op die indrukke wat dit oor ander opposisiepartye skep. Daardie partye het steun, en uitlatings soos dat die DA volgende jaar Gauteng saam met die opposisie wil verower, en die verkiesing daarna alleen wil regeer, kan, en het heel moontlik, reeds onder ander opposisiekiesers weerstand ontlok. Wie is immers entoesiasties om in ‘n koalisie deel te neem as die kontrak reeds politieke selfmoord ingeskryf het?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Alhoewel dit nog te vroeg is om uit die plaaslike verkiesings ‘n afleiding te maak oor wat volgende jaar gaan plaasvind, is dit wel moontlik om te beweer dat die ANC, veral in die stedelike omgewings, tog steun verloor het – in meeste gevalle te behoewe van onafhanklike kandidate.

Verder is dit ook ‘n feit dat daar blankes is wat, al moet hulle buite stemming bly en daarom die kanse van die ANC beter maak, nooit vir die DA sal stem nie. Dit is ‘n tog wel ‘n jammerte want in alle gevalle is die ANC die wenner. Mens wil amper sê – diesulkes moet nooit weer die ANC-regering kritiseer nie.

Koalisie-vorming sal natuurlik ook help om die ANC van ‘n oorwinning te weerhou. Mens kan maar net hoop dat die opposisie-partye dit deeglik sal oorweeg ter wille van ‘n groter saak.

Andre' ·

Die DA en Agang voer ‘n verlore stryd want hulle propageer ‘n Regering vry van korrupsie en nepotisme maar by die meeste ANC-kiesers en Jeugliga-lede vind dit nie aanklank nie!

Na soveel eeue van onderdrukking sou mens dink dat wanneer ‘n vrou in as Departementshoof aangestel word sy sou probeer bewys dat sy beter as haar manlike ampsdraer kan wees maar kyk hoe treurig gaan dit met bv. Landbou, Onderwys, Vroue-en Kinders en baie Burgermeester-poste!
Dit eet en reis en spandeer asof dit hulle eie huishoudings is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.