Rentekoers bly onveranderd

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: ANA

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Donderdag aangekondig die rentekoers bly onveranderd.

Die sentrale bank se repokoers bly dus 6,75%. Kganyago het gesê die bank se kwartaallikse projeksiemodel genereer ʼn endogene belangstellingspad wat ʼn toename in die repokoers van 75 basispunte teen die einde van 2019 aandui. “Ons moet beklemtoon dat dit nie beteken daar is ʼn onvoorwaardelike verbintenis om die rentekoerse te verander in lyn met hierdie projeksie nie.”

Kganyago het gesê daar is besluit om die repokoers onveranderd te laat in die lig van die hoë mate van onsekerheid wat heers in die ekonomie en die balansering van die risiko’s. Hy het gesê opwaartse risiko’s vir inflasie-vooruitsigte het sedert die monetêrebeleidskomitee se vorige vergadering toegeneem, hoofsaaklik as gevolg van hoër internasionale oliepryse en ʼn swakker rand-wisselkoers.

Volgens Kganyago sal plaaslike gebeure soos ʼn moontlike kredietafgradering en die ekonomiese implikasies van die ANC se verkiesingskonferensie in Desember moontlik die rand se beweging oor die volgende paar weke domineer.

Die Reserwebank het nie sy inflasieverwagting vir 2017 aangepas nie, maar sy verwagting vir 2018 en 2019 effens verhoog tot onderskeidelik 5,2% en 5,5%.

Kganyago het gesê verskeie faktore het daartoe bygedra dat die rand ʼn laagtepunt teenoor die Amerikaanse dollar bereik het vroeër in November, insluitend onsekerheid oor die uitkoms van die ANC se verkiesingskonferensie in Desember, die negatiewe reaksie op die mediumtermynbegroting en spekulasie rondom gratis hoër onderrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marous ·

Bedrog , diefstal , korrupsie ,moord , roof , onbevoegdheid , geen innovasie , geen vervaardiging , verkoop van natuurlike hulp bronne …dis wat dit veroorsaak en dit gaan net slegter en slegter gaan.

martin cilliers ·

Een dag voor ons dalk na rommel status word die rente koers onveranderd????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.