Hoofregter stel tribunaal aan om rassistiese wangedrag te ondersoek

Regter Motata ná hy in Januarie 2007 in ‘n muur vasgery het. Foto: AfriForum

AfriForum het ʼn brief van die sekretariaat van Regterlike Dienskommissie (RDK) ontvang, waarin aangedui word dat hoofregter Mogoeng ingevolge artikel 19 van die Wet op die Regterlike Dienskommissie ʼn Regterlike Gedragstribunaal aangestel het om AfriForum se klag van rassistiese wangedrag teen regter Motata te ondersoek en daaroor verslag te doen.

Die Tribunaal bestaan uit adjunk-regterpresident AN Jappie van die KwaZulu-Natalse hooggeregshof, regter NC Dambuza van die Oos-Kaapse hooggeregshof en mnr. A Lax, ʼn praktiserende prokureur. Die Tribunaal sal die saak van 19-21 Junie in Johannesburg aanhoor.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die RDK se besluit verwelkom as ʼn oorwinning vir almal in die land wat nie die geloofwaardigheid van die regbank in gedrang wil hê nie.

Die Gedragstribunaal sal onder meer ondersoek instel na en verslag moet doen rakende Motata se gedrag tydens ʼn voorval in Januarie 2007, toe hy onder die invloed van alkohol teen ʼn muur van ʼn woonhuis in Johannesburg vasgery en daarna op die toneel rassistiese uitsprake oor wittes gemaak het. In ʼn klankopname van die voorval kan gehoor word dat Motata onder meer sê dat dit “die witman se land was, maar dit is nie meer nie”. Motata het ook aan lede van die Johannesburg-metropolisie wat hom wou kalmeer, gevra: “Waarom staan julle agter die witman?” Motata het ook ʼn Johannesburgse metropolisielid wat hom gearresteer het, gedreig deur te sê: “Jy sal spyt wees hieroor.” Tydens Motata se skuldigbevinding aan dronkbestuur in die Johannesburgse landdroshof, het die landdros in sy uitspraak aangedui dat die bandopname deur die hof aanvaar is as getuienis en dat Motata inderwaarheid rasse- en minagtende skeltaal (racial slurs) geuiter en by ten minste tien geleenthede “F.. jou” gesê het.

Volgens Kriel behoort ʼn regter alle gemeenskappe se belange sonder enige vooroordele te dien. “Enige regter wat homself aan rassistiese optrede skuldig maak, soos wat Motata na bewering volgens die klankopname gedoen het, hoort nie op die regbank nie,” het Kriel gesê.

Die president moet ingevolge artikel 177 van die Grondwet ʼn regter permanent van sy of haar amp onthef indien die RDK sodanige regter aan growwe wangedrag skuldig bevind en die nasionale vergadering daarna ʼn resolusie om sodanige regter te verwyder, met ʼn tweederde-meerderheid aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.