Hoog in Colorado: Dagga word nou wettig verkoop

Dagga word nou wettig in Colorado verkoop Foto: @stevestoner42 op Twitter

Dagga word nou wettig in Colorado verkoop Foto: @stevestoner42 op Twitter

Marijuana-gebruikers het Woensdag fees gevier toe Colorado die eerste staat in Amerika geword het wat cannabis wettig verkoop.

Dié westelike staat, bekend vir sy ski-oorde en berge, het 348 handelslisensies goedgekeur, insluitend lisensies vir klein daggawinkeltjies wat tot 28 gram dagga aan mense ouer as 21 kan verkoop.

Washington sal na verwagting oor ʼn paar maande in Colorado se voetspore volg.

Colorado en Washington het die ontspanningsverbruik van dagga ná referendums in November 2012 goedgekeur, maar volgens die nuwe reëls mag dagga nou in aangewese winkels verkoop word.

“Dit is nou net ʼn handelsitem, soos om na ʼn drankwinkel toe te gaan,” het Charles Pierce (61) aan AFP by die Denver Kush Klub gesê. Ondersteuners het van vroeg af al in die ysreën en wind gestaan en wag vir die winkel om 08:00 (1500 GMT) oop te maak.

Regeringsbeamptes verwag dat verkope uit marijuana ongeveer $67 miljoen (sowat R702 miljoen) sal bydra tot die jaarlikse belastinginkomste.

Teenstanders het egter gewaarsku dat dit tot ʼn toename in die gebruik en verslawing aan marijuana kan lei, selfs onder jong mense wat tegnies nie die dwelmmiddel mag gebruik nie. Hulle voer ook aan dat marijuana-gebruikers ʼn reeks gesondheid- en psigiatriese probleme in die gesig kan staar en dat dagga gereeld die voorloper is vir ander dwelms.

Marijuana vir mediese gebruik is reeds in 19 Amerikaanse state gewettig en word in sommige gevalle al vir die afgelope 20 jaar lank toegelaat.

Na verwagting sal meer as 300 daggawinkels in Junie 2014 in Washington sy deure oopmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Says ·

Op die einde van die dag gaan dit alles net om geld/belasting, ek gebruik nie dagga nie, maar volgens my is dit minder skadelik as drank. SA sal waarskynlik ook die krui binnekort wettig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.