Hooggeregshof ontvang aansoek vir debat oor Zuma wantroue-mosie

President Jacob Zuma

Die Kaapstadse hooggeregshof sal Dinsdag ʼn dringende aansoek deur opposisiepartye aanhoor om Max Sisulu, speaker van die nasionale vergadering, te dwing om ʼn debat oor ʼn mosie van wantroue in president Jacob Zuma te skeduleer.

Die aansoek vir die dringende interdik is Vrydag namens ʼn aantal opposisiepartye van stapel gestuur deur Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier.

In die aansoek word versoek dat ʼn debat oor die mosie van wantroue gehou word voor die parlement se afsluiting vir die jaar – waarskynlik teen die einde van hierdie week.

Mazibuko het op 8 November die vergadering in kennis gestel van die mosie van wantroue in Zuma. Die mosie is ingestel met die argument dat “onder sy leierskap is die regstelsel verpolitiseer en verswak; korrupsie het hand-uit geruk; werkloosheid neem toe; die ekonomie verswak; en die reg tot toegang tot kwaliteitonderrig is belemmer”.

Die mosie is deur agt opposisiepartye gesteun, insluitend die African Christian Democratic Party (ACDP), Azanian People’s Organisation (APO), Congress of the People, Vryheidsfront Plus, Inkatha Vryheidsparty, die United Christian Democratic Party en die United Democratic Movement.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.